Knoeiery-skandaal: Spelers se bates ondersoek
2010-09-06 11:39
Islamabad - Die regering van Pakistan gaan die bates van huidige sowel as voormalige krieketspelers ondersoek nadat die Internasionale Krieketraad drie van die land se spelers aangekla en geskors het oor beweerde wedstrydknoeiery.
'n Plaaslike koerant, Jang, het Maandag berig dat die land se belastingkantoor sy streekskantore beveel het om bankrekeninge, bates en die aantal motors wat spelers besit, oor die afgelope vyf jaar te ondersoek.
'n Belastingamptenaar, Israr Rauf, het volgens die koerant ook gesê die land se krieketraad sal gevra word om onkostes te meld wat aangegaan is vir spelers, keurders, afrigters en bestuurders.
Die Internasionale Krieketraad wil hom nog nie uitlaat oor die aanklagte wat die geskorste spelers in die gesig staar nie, maar sê dat hierdie die grootste knoeiery die afgelope dekade is.
Volg Nuus24 Sport op Twitter.
- SAPA