Knoeiery: Nóg vier spelers glo betrek
2010-12-01 12:46
Islamabad - 'n Video is van die beroepswedder Mazhar Majeed vrygestel waarin hy onthul hoe hy vier ander Pakistanse krieketspelers ook by wedstrydknoeiery betrek het.
In die beelmateriaal wat Dinsdag deur die Geo-televisiekanaal gebeeldsend is, beweer Majeed dat die Akmal broers, Kamran en Umar, snelbouler Wahab Riaz en aanvangskolwer Imran Farhat ook betrokke is by wedstrydknoeiery.
Die Internasionale krieketraad (IKR) het Mohammad Asif, Salman Butt en Mohammad Amir reeds geskors nadat 'n Britse koerant hulle van knoeiery tydens die toer in Engeland beskuldig het.
Dié bewerings het aan die lig gekom nadat die News of the World, Majeed op video vasgelê het waar hy verduidelik hoeveel foutballe boulers in 'n toets op Lord's sal afstuur.
Die IKR se teen-korrupsie eenheid sal 'n volledige verhoor van al die aanklagte teen die drie spelers in Januarie in Doha, Katar aanhoor.
Van die sewe spelers wat deur Majeed genoem is, is dit net Umar Akmal en Wahab Riaz wat opgeneem is in Pakistan se span vir die toer later die maand in Nieu-Seeland.
Riaz is ook deur die Britse polisie tydens die toer in Engeland ondervra. Maar later sonder enige aanklagtes vrygelaat.
Kamran Akmal beweer hy het die IKR se teen-korrupsie eenheid na die Engeland toer genader is toe ingelig dat hy vry is om Pakistan as krieketspeler te verteenwoordig.
Tog het keurders hom nie vir Pakistan se kits- of toetswedstryde teen Nieu-Seeland gekies nie.
Die nuutste video is glo dieselfde video wat die IKR aan regsverteenwoordigers van Amir en Butt verlede maand in Doebai gewys het.
Majeed het glo ook in die video gesê dat hy nie belangstel om senior spelers soos Younis Khan, Shahid Afridi, Abdul Razzaq en Saeed Ajmal te gebruik nie aangesien hulle nie meer lank op internasionale vlak gaan kan meeding nie.
Hy het ook gesê dat Ajmal 'te gelowig' is toe hy aan die joernalis, wat homself as 'n beroepswedder voorgehou het, verduidelik het hoe hy die spelers genader het.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24