Knights kolf plek in uitspeelrondes los
2011-11-28 09:51
Wanderers – Die Knights se krieketspan het hom Sondag by die Cape Cobras en die Warriors aangesluit as die drie spanne wat sake in die uitspeelrondes van die Eendagbeker-reeks gaan uitspook.
Die Knights het die Dolphins in Pietermaritzburg volgens die Duckworth-Lewis-metode met 102 lopies oorrompel.
Die Knights het, danksy Dean Elgar (117, 112?b, 12x4, 2x6) en Obus Pienaar (88, 92?b, 10x4, 1x6), ’n stewige 302/8 aangeteken.
Die Dolphins het gesukkel op 137/7 toe reën die soveelste keer dié seisoen een van hul tuiswedstryde onderbreek het.
Woensdag se laaste ligawedstryde sal bepaal in watter volgorde die drie voorlopers eindig.
Die Cobras (28 ligapunte) loop nou voor, gevolg deur die Warriors (25) en die Knights (23). Klop die Warriors die Titans in Centurion en die Cobras val vas teen die Dolphins in Kaapstad, sal die Oos-Kapenaars bo eindig.
Die span wat bo eindig, dring deur tot die eindstryd en sal ook tuisvoordeel hê. Die ander twee sal sake in ’n halfeindstryd uitspook.
Daar is Sondag op die Wanderers krieketgeskiedenis gemaak toe die Titans die meeste wydlopers tot nog toe, asook die meeste ekstras, in ’n eendagstryd afgestaan het.
Hulle het in die kragmeting met die Lions 41 wydlopers geboul en altesaam 54 ekstras afgestaan in hul nederlaag met 142 lopies.
Die getal wydlopers “verbeter” die vorige rekord van Noordwes (37) teen die Vrystaat in 2007 en die ekstras die 51 wat die Noordwesters in daardie wedstryd afgestaan het.
Dié powere vertoning beteken die Titans is nou laaste op die puntelys en lyk na die gunstelinge vir die houtlepel.
Neil McKenzie (108*, 88 balle, 14x4, 1x6) was uitstekend in die Lions se massiewe beurt van 338/5. Jonathan Vandiar (52, 63 b, 6x4) en Alviro Petersen (45, 56 b, 6x4) het 121 lopies om die eerste paaltjie aangeteken.
Die Titans-aanvangsboulers, Hardus Viljoen en Marchant de Lange, het voor in die beskuldigdebank gestaan wat die wydlopers betref.
Met die Lions se hotklou-naatbouler Cliffe Deacon (5/55) en sy aanvangsmaat, Pumelela Matshikwe (4/60) vuurwarm, was die Titans (196 in 30.2 boulbeurte) nooit op koers nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24