Kirsten prys Proteas vir 'merkwaardige prestasie'
2012-12-05 16:58
Kaapstad – Wat die Suid-Afrikaanse krieketspan die afgelope tyd bereik het is merkwaardig, het die Proteas se afrigter, Gary Kirsten, Woensdag gesê.
“Dit was 'n ongelooflike jaar,” het Kirsten gesê na die span se aankoms in Kaapstad uit Australië.
Die Proteas het Australië 1-0 in die toetsreeks gewen om steeds die posisie as nommer een toetsspan in die wêreld te behou.
“Ons het ons visier daarop ingestel om die nommer een span te word en dan aan daardie posisie vas te klou.”
Die Proteas het vanjaar ‘n tuisreeks teen Sri Lanka gewen asook reekse weg van die huis teen Nieu-Seeland, Engeland en Australië.
“Hulle is ‘n klomp volwasse individue en hulle speel vir mekaar.”
“Hulle speel vir daardie Suid-Afrikaanse wapen op ‘n manier wat ek nog nie voorheen gesien het nie.”
Kaptein Graeme Smith het gesê dat hy voel die span kan enige uitdagings in hul pad oorwin.
Smith het bygevoeg dat die spelers gewys het dat hulle die vaardighede het om by enige toestande aan te pas.
Kirsten was ook vol lof vir plaasvervangers wat so goed gedoen het al het hulle byna niks toetservaring gehad nie.
“Toe Faf du Plessis vir die beseerde JP Duminy vervang was ons almal verbaas oor hoe goed hy gedoen het.”
“Hy het beter gespeel as wat ons verwag het en dieselfde kan gesê word van Robin Peterson.”
Smith, wat vroeër vanjaar gesê het dat hy sy kapteinskap sterk heroorweeg, het Woensdag gesê dat dit iets was waaraan hy nie meer baie dink nie.
“Solank as wat ek voel ek kan waarde verskaf as kaptein en die ouens in die beste manier moontlik lei, is daar geen rede vir my om weg te stap nie,” het Smith gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA