Kevin Pietersen gaan vir Natal speel
2010-09-09 11:04
Durban – Die kolwer Kevin Pietersen wil 'n paar wedstryde vir die KwaZulu-Natal Dolphins speel ter voorbereiding vir Engeland se Reeks om die As later vanjaar teen Australië.
Die Suid-Afrikaans gebore Pietersen het toestemming gevra om twee vierdagwedstryde tussen 7 en 17 Oktober vir die Dolphins te speel en wag tans vir Krieket SA om die ja-woord te gee, het Engeland se krieketraad (ECB) Woensdag in ‘n verklaring bevestig.
“Ek is baie gretig om soveel moontlik oefening met die kolf te kry, want 'n uitdagende en opwindende winter lê voor my, het Pietersen in ‘n verklaring gesê.
“My grootste doelwit is steeds om ‘n noodsaaklike rol in die Engeland-span te speel en hierdie is die perfekte geleentheid om in uitstekende omstandighede te oefen vir die Reeks om die As,” het hy bygevoeg.
"Die wedstryde in Suid-Afrika sal help om my voor te berei vir die Kookaburra bal in Suidelike Halfrond omstandighede."
Pietersen, wat sy debuut vir die Dolphins in 1997 gemaak het, voor hy sy tasse vir Engeland gepak het, sal nie betaling vir die wedstryde ontvang nie, het ‘n KwaZulu-Natalse krieketbeampte op voorwaarde van anonimiteit aan Reuters gesê.
Die Reeks om die As begin in November in Australië.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24