Kepler help Lions teen grotes
2010-07-27 09:08
Johannesburg - Kepler Wessels is die man wat moet toesien dat die Lions hulle eersdaags teen wêreldkrieket se grootste name laat geld.
Dié voormalige Suid-Afrikaanse kaptein en die Proteas se kolfafrigter is gister aangestel as dié franchise se strategiese hoof en sal reeds vroeg aanstaande maand die sweep by die Wanderers klap ter voorbereiding vir die skatryk Kampioeneliga-reeks in Suid-Afrika.
Die Lions en die Warriors het hul plekke in dié twintig20-toernooi bespreek deur die eindstryd van verlede seisoen se plaaslike blitsreeks te haal en sal sake teen die voorste spanne van Indië, Australië, Nieu-Seeland, Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande uitspook.
Wessels-hulle raak reeds op 10 September in die openingswedstryd slaags met Sachin Tendulkar se Mumbai Indians – die naaswenner van vanjaar se Indiese Premierliga.
“Ek is verheug oor die kans om by die Lions betrokke te raak en het reeds in die verlede uitstekend met hulle saamgewerk,” het Wessels gesê.
“Hopelik kan ek die span help om na die beste van sy vermoë te presteer.”
Tog erken Wessels dat ’n steil bult op die afrigter, Dave Nosworthy, se span wag.
“Ons is beslis nie een van die gunstelinge nie, maar dit kan juis in ons guns tel,” het hy gesê.
“In blitskrieket is enigiets moontlik en ons het ook die tuisveldvoordeel.”
Die 23 wedstryde sal in Johannesburg, Port Elizabeth, Durban en Centurion plaasvind.
Volgens Nosworthy kan Wessels se betrokkenheid toesien dat dié span “’n hele paar mense verras.
Sy ervaring en kundigheid is nét wat die span benodig in dié toernooi, terwyl sy professionalisme ons ook handig te pas sal kom in die toekoms.”
Die Lions speel ook teen Australië se Redbacks, die Royal Challengers Bangalore van Indië en die Windies se kampioenspan, wat nog gekroon moet word.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24