Kemp speel in Kampioeneliga
2010-09-07 12:49
Kaapstad – Die kaptein van die Cape Cobras, Justin Kemp, is in die span van die Chennai Super Kings vir die opkomende Kampioeneliga-toernooi in Suid-Afrika opgeneem.
Hy vervang die draaibouler Thilan Thushare nadat dié 29-jarige verlede week ‘n liesbesering tydens 'n wedstryd tussen Sri Lanka ‘A’ en Pakistan ‘A opgedoen het.
Kemp was ‘n gereelde lid van die Super Kings tydens hul suksesvolle veldtog in vanjaar se Indiese Premierliga-reeks.
Die insluiting bring die aantal Suid-Afrikaners wat verskillende franchises in vanjaar se Twintig20-toernooi verteenwoordig nou op sewe te staan.
Die Warriors en Lions is die twee Suid-Afrikaanse spanne wat gaan deelneem.
Kemp en Albie Morkel speel vir die Super Kings, JP Duminy en Ryan McLaren vir die Mumbai Indians en Jacques Kallis, Dale Steyn en Dillon du Preez sal die Royal Challengers Bangelore verteenwoordig.
Die Kampioeneliga skop Vrydag af met die openingswedstryd tussen die Lions en Mumbai Indians op die Wanderers in Johannesburg.
Kaartjies kos tussen R30 en R200 en is by Computicket beskikbaar.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
– Sport24