Kallis tussen Indië en sege
2010-12-28 22:42
Eduan Roos
Durban - Jacques Kallis staan vierkant tussen Indië en ’n kans om die toetsreeks teen Suid-Afrika Woensdag op Kingsmead gelykop te maak, glo VVS Laxman.
Dié Indiese kolwer was Dinsdag die grootste doring in die vlees van die Proteas op die derde dag van die tweede toets.Laxman se beurt van 96 lopies het die besoekers in staat gestel om aan die tuisspan ’n stewige wenteiken van 303 te stel.
Sree Sreesanth en Harbhajan Singh het daarna drie paaltjies platgetrek om die Suid-Afrikaners Dinsdagaand in hul beddens te laat rondrol. Kallis en AB de Villiers sal die lopiejaagtog vandag op 111/3 hervat, met Ashwell Prince en Mark Boucher die enigste erkende kolwers steeds in die kleedkamer.
Graeme Smith, Alviro Petersen en Hashim Amla is reeds uit. “Jacques se paaltjie gaan deurslaggewend wees, want ons het in Suid-Afrika se eerste beurt gesien dat hulle paniekerig raak as hy nie meer daar is nie,” het Laxman gesê.
Kallis was in die eerste beurt ongelukkig om vir net 10 uitgehardloop te word, maar daarna het die tuisspan in sy eerste beurt ineengestort en hy is eindelik vir ’n karige 131 uitgeknikker.
“As ons hom vroeg kan uithaal, het ons ’n uitstekende wenkans. “Maar ons sal baie geduldig moet wees en die bal reg van die begin af in die regte plekke moet plant,” het Laxman gesê.
Laxman is vol vertroue dat die Indiërs Woensdag met ’n sielkundige voorsprong op Kingsmead sal uitstap nadat die Proteas vroeg gisteroggend gedreig het om hul kolflys vinnig kaf te draf.
“Geen span is ooit heeltemal tevrede met die lopies op die telbord nie.“Maar dit gaan nie maklik wees vir hulle om dit te kry nie,” het Laxman gesê.
“Ons sou graag meer wou kry, maar die stertkolwers het uitstekend gedoen om te help dat ons by 300 uitkom – veral nadat Suid-Afrika drie paaltjies kort ná mekaar platgetrek het.”
Laxman en Zaheer Khan het die Proteas anderhalfuur lank as’t ware teen die mure uitgedryf met ’n vennootskap van 70 lopies om die agtste paaltjie.
Dít nadat Morné Morkel en Lonwabo Tsotsobe vroeg toegeslaan het deur Cheteshwar Pujara, Mahendra Singh Dhoni en Harbhajan Singh uit te haal.
“Die sleutel tot sukses vir kolwers op dié blad is om geduldig te wees en soveel as moontlik enkellopies aan te teken,” het Laxman gesê.
“Dit is een van daardie kolfblaaie waarop jy nooit werklik ingegrawe voel nie en as ons boulers Suid-Afrika onder druk kan plaas, behoort ons te wen.
“Suid-Afrika het in die verlede al dikwels in belangrike wedstryde onder die druk gevou, terwyl ons in hul eerste beurt gewys het dat ons die botoon kán voer, selfs wanneer ons nie die gunsteling is nie.”
Suid-Afrika se ondersteuners sal Woensdag meer sulke houe wil sien.
- Sport24