Kallis steier ná ‘kopskoot’
2011-12-17 07:06
Centurion – Die Suid-Afrikaanse sterkolwer Jacques Kallis het Vrydag nie geweet of hy in Centurion of die Sederberge is nie nadat hy ’n “kopskoot” gekry het.
Hy is in Suid-Afrika se eerste beurt in die eerste toets teen Sri Lanka teen die kant van die kop raakgeboul én neergevel deur ’n bal van die snelbouler Dilharo Fernando, wat 139,7 km/h gemeet is.
’n Woordvoerder van die SA span het Vrydagmiddag gesê Kallis sal goed dopgehou word om vas te stel of daar enige newe-effekte is.
Kallis het etlike minute lank roerloos op die grond gelê voordat hy baie wankelrig orent gekom het.
Hy het eintlik in die aflewering van Fernando ingekoes. Dit was nie so kort geplant nie en het ook nie so hoog gewip soos wat Kallis verwag het nie.
Die bal het die kant van sy kopskerm getref en die geweld van die impak het dit teen sy slaap vasgedruk. Hy het in die proses ’n sny aan sy oor opgedoen.
Hy het ná dié hou verdwaas opgestaan, maar feitlik dadelik weer op die grond neergesak.
Al die Sri Lankaanse spelers en sy kolfmaat, AB de Villiers, asook die skeidsregters het bekommerd om hom saamgedrom.
Die fisioterapeut van die Suid-Afrikaanse span, Brandon Jackson, het Kallis behandel terwyl die spandokter van die Titans sake ook gemonitor het.
Ná sowat sewe minute het Kallis orent gesit, maar hy was duidelik baie verdwaas en het nie mooi geweet wat om hom aangaan nie.
Toe hy eindelik regop staan, het hy gesteier en daar moes net gekeer word dat hy nie weer omval nie.
Hy kon egter wel sy kolfbeurt voortsit. Hy het in daardie stadium 25 lopies gehad en is ná etenstyd vir 31 lopies uitgehaal.
- Die Burger