Kallis, jou doring
2012-01-08 08:43
Kaapstad – As dit van Jacques Kallis afhang, sal hy vir nog minstens drie jaar lank die Groen-en-Goud dra.
Dié 36-jarige veelsydige ster het vandeesweek hier die sluier gelig oor sy onmiddelike toekomsplanne ná sy kolf-heldedade in die beslissende toets teen Sri Lanka – sy 150ste.
Kallis se 224 lopies, die tweede dubbele honderdtal van sy roemryke loopbaan, het die Proteas in staat gestel om 580/4 in hul eerste beurt op te stapel en dié wedstryd uiteindelik met 10 paaltjies te wen.
“Nuweland was nog altyd my gunsteling-veld, selfs toe ek ’n kannetjie was en hier kom krieket kyk het,” het Kallis gesê.
“Om my 150ste toets hier te kon speel, was reeds besonder spesiaal. Vir die span om boonop die reeks te wen én vir my om by te dra met die kolf, maak dit net soveel beter.
“Dis die soort wedstryd waarvan jy droom, veral omdat dit ’n baie belangrike mylpaal was vir my.”
Tog was Kallis se plek in die elftal skaars ’n week gelede onder die vergrootglas, ná agtereenvolgende nulletjies in die Suid-Afrikaners se vernederende beurtnederlaag in die tweede toets op Kingsmead.
“Gelukkig lees ek nie juis koerante nie, maar ’n paar pêlle het vir my vertel wat daar alles oor my geskryf is,” het Kallis vroeër in reaksie op dié kritiek gesê.
“Dis belaglik om te hoor dat jou sig te sleg is en dat jy skielik te oud is ná een swak toets.”
Hy het ook ontken dat hy nog géén planne het om uit te tree nie.
“Ek twyfel of ek nog vir 10 jaar sal kan speel, want niemand het die rég om vir Suid-Afrika te speel nie. Dis ’n voorreg wat verdien moet word,” het Kallis gesê.
“My groot droom bly egter om die Wêreldbeker vir my land te wen, maar net tyd sal leer of ek ooit weer die kans sal kry.”
Kallis het reeds vyf keer in dié toernooi gespeel, waaronder begin verlede jaar toe die Suid-Afrikaners op dramatiese wyse in die kwarteindronde deur Nieu-Seeland uitgeskakel is.
“Vir eers vat ek dit net wedstryd vir wedstryd, maand vir maand en jaar vir jaar. As ek myself en my werklas bestuur en die ou lyf werk saam, kan dit dalk nét gebeur.”
Daarom sal Kallis vandeesweek met Gary Kirsten, die Proteas-afrigter, gesels oor sy deelname aan die reeks van vyf kitswedstryde teen die Sri Lankane, wat Woensdag in die Paarl begin.
“Ek glo ek sal in minstens die eerste twee speel – en dan sal ek ’n besluit neem oor die res van die reeks,” het Kallis gesê.
“Ek moet realisties en slim wees as ek by die volgende Wêreldbeker wil uitkom.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24