Smith: Kallis kosbaarste speler ooit
2010-06-21 10:00
Kaapstad - Die Proteas se kaptein, Graeme Smith, glo Jacques Kallis is die waardevolste speler in die geskiedenis van toetskrieket.
Kallis was een van drie Proteas wat ’n honderdtal in Suid-Afrika se eerste beurt van die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande in Basseterre gemoker het.
Hulle het Suid-Afrika in staat gestel om sy eerste beurt op 543/6 gesluit te verklaar.
Die Windies het Sondag 197/3 met die druktyd bereik.Kallis is slegs die 6de kolwer om 11 000 lopies in toetkrieket aan te teken.
“Na my mening is Jacques Kallis die waardevolste speler in die geskiedenis van krieket.
Van al die spelers met meer as 11 000 lopies, is hy die enigste een met meer as 250 paaltjies,” het Smith op Twitter gesê.
Om die waarheid te sê, het nie een van die kolwers bo Kallis (34) op die lys – Sachin Tendulkar, Brian Lara, Ricky Ponting en Allan Border – meer as 50 paaltjies in hul loopbane geneem nie.
Dis ’n verstommende mylpaal vir Kallis as in ag geneem word dat hy al meer as 17 500 balle geboul het.
Kallis se 110 (227 balle, 12x4, 1x6) was ook sy 35ste honderdtal en hy het nou vir Sunil Gavaskar en Lara (albei 34) verbygesteek om derde op die lys van die meeste toets-honderdtalle te wees.
Net Tendulkar (47) en Ponting (39) is voor hom op dié lys.
Graeme Smith (132; 238 b, 9x4, 3x6) en AB de Villiers (135*; 168 b, 13x4, 5x6) was die ander twee kolwers wat in die gunstige toestande baljaar het.
Suid-Afrika het Sondag in die eerste twee sessies relatief min sukses met die bal behaal.
Net die oornagkolwers, Chris Gayle (50) en Narsingh Deonarine, het hul paaltjies verloor.
Die groot vis Shivnarine Chanderpaul (35*) was steeds voor die penne.
Morné Morkel en Dale Steyn het van die begin van die Windies se beurt af gevaarlik gelyk, maar dit was uiteindelik die ongeduldige en onverskillige kolfwerk van Gayle en Deonarine wat hulle gehelp het om deurbrake te bewerkstellig.
Die Windies-kaptein, Gayle, het versuim sy voete te gebruik teen ’n vollerige aflewering van Morkel en Deonarine (65) het heeltemal kop verloor.
Hy het sy vyftigtal behaal ná ’n geduldige beurt en toe losgetrek.
Deonarine het 13 lopies van ’n Kallis-beurt gemoker, maar toe met die eerste bal van die volgende beurt probeer om Steyn grens toe te jaag net om te sien hoe sy penne spat.