Kallis, Steyn in Wisden-elftal
2011-04-13 23:00
Johannesburg - Jacques Kallis en Dale Steyn is beide deur die 2011 Wisden-krieketalmanak vereer en in hul toets-elftal vir die jaar 2010 ingesluit, het Krieket Suid-Afrika (KSA) Woensdag in ‘n verklaring gesê.
Sachin Tendulkar is, soos vooraf verwag is, genoem as Wisden se krieketspeler van 2010. Hy het in dié jaar meer as 1 500 toetslopies aangeteken en het die eerste dubbele honderdtal in die geskiedenis van eendagkrieket aangeteken.
Die Wisden-elftal sluit vyf spelers van Indië, twee van Suid-Afrika, twee van Engeland, een van Sri Lanka en een van Bangladesj in.
KSA se uitvoerende hoof, Gerald Majola, het Kallis en Steyn gelukgewens met dié prestasie.
“Dale en Jacques beklee nou al geruime tyd die eerste plek op die wêreldranglys vir toetse in, onderskeidelik, die kategorieë van beste bouler en beste veelsydige speler,” het Majola gesê.
“Die tweestryde tussen Dale en Sachin Tendulkar in verlede jaar se twee reekse tussen Indië en Suid-Afrika het die krieketpubliek oor die wêreld heen se verbeelding aangegryp.
“Niemand van ons wat gelukkig genoeg was om dit te aanskou, sal ooit Jacques se ongelooflike kolfwerk in die Nuweland-toets vergeet nie, waarin hy ‘n honderdtal in albei kolfbeurte aangeteken het ondanks die pyn waarin hy was.
“Krieket Suid-Afrika is baie trots op hul prestasies.”
Die Wisden-elftal is:
Virender Sehwag (Indië), Tamim Iqbal (Bangladesj), Kumar Sangakkara (Sri Lanka), Sachin Tendulkar (Indië), Jacques Kallis (Suid-Afrika), VVS Laxman (Indië), MS Dhoni (Indië, kapt), Graeme Swann (Engeland), Dale Steyn (Suid-Afrika), Zaheer Khan (Indië), Jimmy Anderson (Engeland).
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA