KSA verwerp Engeland se aantygings
2012-10-08 13:25
Kaapstad – Krieket SA het aantygings deur die hoof van die Engelse krieketraad (ECB), David Collier, dat Suid-Afrikaanse spelers die sms-sage van Kevin Pietersen aangehits het, met minagting verwerp.
"Dit is absolute bog," het KSA se tussentydse hoof, Jacques Faul, Maandag gesê.
"Wat veral teleurstellend is is dat ek van aangesig tot aangesig met mnr. Collier gepraat het toe ek in Londen was vir die Lord's-toets en hy het geensins die aantyging met my bespreek nie. Ek sou dink dat hy eers met my sou praat voordat hy dit in die openbaar vir die media sê."
"Dit is nie die manier waarop KSA sake doen nie en dit is ook nie die manier waarop die ECB in die verlede met ons sake gedoen het nie. Dit is baie teleurstellend, want in die verlede was ons verhouding met die ECB altyd beskaafd en konstruktief," het hy gesê.
"Hierdie is 'n interne ECB-aangeleentheid waarby ons nie betrokke wil raak nie. Dit was 'n afleiding vir ons spelers, iets wat hulle nie tydens die toetsreeks nodig gehad het nie."
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24