KSA wens Kallis geluk
2012-01-03 13:38
Johannesburg – Krieket Suid-Afrika (KSA) het Jacques Kallis Dinsdag gelukgewens met sy 150ste toetswedstryd in die derde toets teen Sri Lanka op Nuweland, Kaapstad.
“Jacques se loopbaan-statistieke is vanselfsprekend,” het Gerald Majola, uitvoerende hoof van KSA, gesê.
“Hy is een van die beste spelers wat nog hierdie sport gespeel het en as ‘n kolwer/bouler is sy loopbaan amper uniek, in die dat hy in die top-vier gekolf het en dat hy ‘n groot bouler is.”
Majola het gesê Kallis verteenwoordig alles wat goed is in krieket en was nooit betrokke in enige omstrede optrede in enige stadium van sy loopbaan nie.
“Hy het homself ook toevertrou om minderbevoorregte jongmense te help om hul opvoedkundige en krieket-drome deur die Jacques Kallis Trust te laat bewaarheid,” het Majola gesê.
“Twee begunstigdes uit sy program het Suid-Afrikaanse skole reeds verteenwoordig en daar is die vooruitsig dat ‘n begunstigde uit die Trust eendag langs Kallis in ‘n toetswedstryd sal speel.”
Hy het bygevoeg dat Kallis nog ‘n groot bydrae het om aan die Proteas te lewer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA