KSA aanvaar 'onreëlmatige gedrag'
2011-07-30 16:00
Kaapstad – Krieket Suid-Afrika (KSA) het 'n meerderheidsbesluit geneem om die voorstelle van KPMG se forensiese verslag te aanvaar dat daar moontlike onreëlmatige gedrag is ingevolge die Wet op Maatskappye en die vertrouenspligte van direkteurs.
Die ouditeursfirma KPMG se verslag het getoon dat daar geen geld uit die koffers van KSA verdwyn het nie, het die beheerliggaam in 'n verklaring gesê.
Dít volg nadat Gerald Majola , die uitvoerende hoof van KSA, opnuut moes verduidelik waarom miljoene rande se bonusse aan hom en sowat 40 ander KSA-werknemers nie verklaar is nie én wat geword het van R84,6 miljoen wat glo uit KSA se geldkoffers verdwyn het, het Sport24 vroeër berig.
Mtutuzeli Nyoka en Majola was sedert verlede jaar haaks oor dié bonusse, wat spruit uit die aanbieding van die Indiese Premierliga en die Kampioenetrofee-toernooi in Suid-Afrika.
Die verslag het verder getoon dat KSA se beleid op vergoeding en reistoelae hersien moet word.
KSA sal die hulp van die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) vra om 'n regsraad, soos voorgestel in die verslag, aan te stel.
Verder sal KSA regsadvies inwin oor Majola wat na bewering die beleid van die beheerliggaam verontagsaam het, het Nyoka Saterdag gesê.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Nuus24