Johan Botha duurste SA'ner op IPL-veiling
2013-01-31 15:35
Kaapstad – Twintig Suid-Afrikaanse krieketspelers sal in Sondag se Indiese Premierliga-veiling in Chennai onder die hamer kom.
Volgens die Cricinfo-webtuiste gaan 101 spelers van agt lande aan die veiling deelneem met die Australiërs Michael Clarke en Ricky Ponting wat teen 'n intreebod van $400 000 (sowat R3,6 miljoen) die meeste belangstelling lok.
Johan Botha spog met die hoogste intreebod (meer as R2,5 miljoen) onder die Suid-Afrikaanse spelers gevolg deur Herschelle Gibbs (R1,8 miljoen) en Vernon Philander (R900 000).
Die ander Suid-Afrikaners wat hoop om deur een van die agt spanne opgeraap te word is: Ryan McLaren, Richard Levi, Rory Kleinveldt (almal $50 000) en Quinton de Kock, Dane Vilas, Paul Harris, Aaron Phangiso, Chris Morris, Lonwabo Tsotsobe, Henry Davids, Rilee Rossouw, Jandre Coetzee, Alistair Gray, Dwaine Pretorius, Stiaan van Zyl, David Wiese, Andrew Birch (almal $20 000).
Elk van die nege franchises mag nie meer as $12,5 miljoen op hul span spandeer nie, wat 'n maksimum van 33 spelers insluitende 11 van ander lande kan bevat.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24