Jacques moet beurt vir SA begin, sê Boeta
2011-10-05 07:10
Bloemfontein – Alviro Petersen se kolfvertoning in die Lions se eerste SuperSport-krieketwedstryd was ’n duidelike boodskap, maar hy verkies Jacques Rudolph as aanvangsmaat vir Graeme Smith in die komende toetsreeks teen Australië.
Só skryf die voormalige Proteas-kolwer Boeta Dippenaar in sy eerste weeklikse blog wat voortaan op sy eie webtuiste verskyn.
Petersen het met kolfbeurte van 186 en 64 teen die Dolphins op die Wanderers gewys hy gaan nie sy plek in die toetsspan prysgee nie. Hy sal van môre in Kimberley teen die Knights daarop wil voortbou.
“Hy (Petersen) het, met Rudolph wat in sy nek vir ’n plek as aanvangskolwer in die nasionale span blaas, ’n stelling gemaak wat sê: Andrew Hudson (SA keurder) ek is jou man om die beurt saam met Graeme Smith te begin!”, skryf Dippenaar.
Dippenaar meld dat Rudolph in die SuperSport-wedstryd tussen die Titans en die Knights uitgetroon het bo die res van die kolwers wat nasionale spelers insluit.
“Die Jacques Rudolph saam met wie ek gespeel het en die Jacques Rudolph wat ek verlede naweek gesien het, is twee heeltemal verskillende spelers.
“Hy is baie goed in voeling met homself en speel met groot selfvertroue. Hy vat die boulers op ’n baie kliniese wyse aan. Gary Kirsten (SA afrigter) moet baie opgewonde wees om iemand soos Jacques in die vleuels te hê.
“Hy kan met ’n tikkie geluk dalk net die Mike Hussey van Suid-Afrikaanse krieket word. Ek hoop beslis so.”
Dippenaar het Rudolph bo Petersen ingesluit in die toetsspan wat op sy blog verskyn.
Die veelsydige Ryan McLaren van die Knights is ook in Dippenaar se nasionale span ná sy goeie vertoning met kolf en bal teen die Titans. Hy is in Centurion vir sy onoorwonne beurt van 133 as die speler van die wedstryd aangewys.
“Ek kan nie dink aan ’n beter kandidaat om op nommer agt vir die Proteas in toetse te kolf nie.”
Die Knights se aanvangsbouler Johan van der Wath se kniebesering word bestuur, terwyl Rilee Rossouw met sy rugbesering weer nie oorweeg is nie. Die naatbouler Malusi Siboto moes hom met ’n gebreekte hand onttrek.
Die Knights-span is (uit): Dean Elgar, Reeza Hendricks, Boeta Dippenaar, Ryan Bailey, Obus Pienaar, Morné van Wyk (k), Ryan McLaren, Michael Erlank, Dillon du Preez, Shadley van Schalkwyk, Quinton Friend, Charl Pietersen.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg