Jacques Kallis gee WB-raad
2010-11-10 08:00
Doebai - Ná die riller-krieketreeks teen Pakistan kan die Suid-Afrikaanse kitsspan nou regmerkies maak langs byna ál die blokkies op die Wêreldbeker-vraelys, wat ’n skrale twee weke gelede nog dolleeg was.
Almal benewens vir een, sê Jacques Kallis. Dié veelsydige breker is eergisteraand as die speler van die wedstryd aangewys in die beslissende stryd nadat sy kolfbeurt van 83 lopies én 3 paaltjies die Proteas na ’n reekssege van 3-2 gelei het.
Dít is die span se tweede laaste slypkans, voor die Wêreldbeker-toernooi in Februarie op die subkontinent begin.
“Dit sal my vierde en moontlik laaste Wêreldbeker(-toernooi) wees en in die verlede het ons nie altyd die geluk aan ons kant gehad óf die sukses behaal wat ons moes nie,” het Kallis gesê.
In vyf vorige probeerslae kon die Proteas nooit verder vorder as die halfeindronde nie – iets wat hulle in 1999 in Engeland en in 2007 in die Wes-Indiese Eilande vermag het.
“Die huidige span het egter iets baie spesiaals en ek het ’n goeie gevoel oor die toernooi. Ons het reuse-vordering gemaak in dié reeks en as ons kan aanhou verbeter soos ons het, is daar geen rede nie waarom ons nie suksesvol kan wees nie.”
Een afdeling waarin die span straks kan verbeter op sy voorgangers, is om minder te tob en dit meer te geniet, meen Kallis.
“Hoewel ons boulwerk veel beter was in dié (laaste) stryd, is ons nog nie waar ons wil wees nie. Ek glo die meeste van die harde werk is reeds gedoen en ons kan met selfvertroue na die Wêreldbeker uitsien. Dié toernooi is ’n vreemde dier, maar as ons nie te veel druk op onsself plaas nie en dit dié keer net geniet is dit dalk nét ons beurt.”
Kallis het Maandagaand net die sesde speler tot nog toe geword wat 11 000 kitslopies aanteken. Hy is saam met Sachin Tendulkar (Indië) en die Aussie-kaptein, Ricky Ponting, net die derde wat dit óók in toetse kon doen.
“Ek was glad nie bewus van dié mylpaal nie totdat my spanmaats my gelukgewens het. Dis ’n lekker gevoel, maar ná 15 jaar van internasionale krieket moes ek maar seker ’n paar lopies aanteken,” het Kallis geskerts.
“Dis veel belangriker om aan te hou presteer en die jongelinge in die span te help ontwikkel. Dán sal ek hopelik eendag kan terugkyk en sê ek het ’n suksesvolle loopbaan gehad.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24