Indië breek SA harte
2010-02-18 13:43
Kolkata - Indië het die beslissende toets teen die Proteas in Kolkata gewen om die reeks gelykop te laat eindig én die beste toetskrieketspan in die wêreld te bly.
Harbhajan Singh het die spyker in die Proteas se doodskis geslaan toe hy Morne Morkel in die derde laaste boulbeurt op die laaste dag been voor paaltjie betrap het.
Om Hashim Amla as speler van die wedstryd te noem, sal bloot ‘n formaliteit wees nadat hy genadeloos gekolf het om 100 lopies na 341 minute en 268 balle op te stapel.
Die Proteas se middelorde het vinnig en maklik geval, maar Wayne Parnell, Paul Harris en Morne Morkel het almal bygedra om Amla te ondersteun deur hul paaltjies met selfvertroue te verdedig.
Indië het die tweede toets met 'n beurt en 58 lopies gewen.
- Sport24