Hussey wurg Indië
2012-02-02 09:40
Sydney. – Die formaat is anders, maar die heerskappy van die Australiese krieketspan oor Indië het Woensdag hier in die Olimpiese stadion voortgeduur.
Die Aussies het die eerste t20-wedstryd op ’n drafstap met 31 lopies gewen.
Dit nadat hulle ook die toetsreeks met 4-0 gewen het.
Vir Indië blyk dit byna onmoontlik te wees om die wurggreep van die Aussies af te skud.
Australië het 171/4 in hul 20 beurte gekry, waarop Indië net by 140/6 kon uitkom.
’n Uitstekende veelsydige vertoning deur David Hussey het die oorwinning vir die tuisspan help bewerkstellig.
Hussey het eers 42 lopies (30 balle, 1x4, 3x6) aangeteken, waarna hy 2/4 in sy twee boulbeurte met sy draaiers geneem het om die Indiërs aan bande te lê.
In die Aussies se kolfbeurt het Hussey goeie ondersteuning gehad van die aanvangskolwer Matthew Wade (72, 43 b, 5x4, 3x6).
Wade en sy aanvangsmaat, David Warner (25, 14 b, 1x4, 2x6) het ’n blitsige vennootskap van 36 lopies geklits.
Warner het aanvanklik bedeesd begin voordat hy 18 lopies van die derde boulbeurt af geslaan het.
Dit het ’n merkwaardige ses ingesluit. Terwyl die bal na hom afgestuur is, het hy van sy normale posisie as linkskolwer geswaai na ’n regskolwer en die bal oor die grenstou gelig.
Hy is uit toe hy in die volgende boulbeurt die bal in die hande van Suresh Raina geslaan het.
Wade, die nuweling-paaltjiewagter, het egter aangegaan waar sy meer geroemde aanvangsmaat opgehou het en het die ankerrol vertolk, hoewel hy sy lopies baie vinniger laat inrol het.
Die Aussies se nuwe kaptein, George Bailey, het ook sy debuut gemaak, maar hy het darem die luuksheid gehad van ’n boulaanval vol ervaring.
Dit het die 40-jarige Brad Hogg, asook Brett Lee en Hussey ingesluit. Hulle het almal gedeel in die paaltjies en het daarin geslaag om die Indiërs se lopiejaagtog te ontspoor.
Die aanvangskolwer Gautam Gambhir (20, 14 b, 3x4) het sy maat, Virender Sehwag (4), gou verloor. Virat Kohli (22, 21 b, 1x6) wou net aan die gang kom toe ook hy sy paaltjie ingeboet het.
Op 81/6 het sake baie droewig vir Indië gelyk, maar die kaptein, Mahendra Singh Dhoni (48*, 43 b, 1x4, 3x6), en die veelsydige Ravi Ashwin (15*) het darem aansien aan die beurt gegee met hul onoorwonne vennootskap van 59 lopies om die sewende paaltjie.
Steeds was dit egter nie naastenby genoeg om hulle by die wenteiken uit te bring nie.
Die wedstryd is ook deur reën onderbreek en ondanks die feit dat daar die heeltyd reën in die lug was, het 60000 toeskouers opgedaag vir hierdie eerste internasionale krieketwedstryd in die Olimpiese stadion, waar wedstryde in 2015 se Wêreldbeker-toernooi aangebied gaan word.
Die tweede en laaste t20-wedstryd word Vrydag in Melbourne beslis.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24