Herschelle Gibbs los kolf vir mikrofoon
2010-12-07 08:37
Johannesburg - Herschelle Gibbs het sy plek in die Proteas se eendagspan verloor, maar dit beteken nie dat hy volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi op die subkontinent gaan misloop nie.
Die voormalige kolwer van die Suid-Afrikaanse krieketspan onderhandel tans met ’n rits internasionale uitsaaiers om tydens dié spogtoernooi vir hulle as kommentator te werk.
Dit sal vreemd wees om Gibbs as ’n kommentator te sien. Sy kolf het in die verlede die praatwerk vir hom gedoen, maar nadat hy ’n bereidwilligheid getoon het om in sy outobiografie geheime te verklap, word seker geglo dat hy heelwat vermaak as kommentator kan verskaf.
Gibbs onderhandel glo met Sky Sports van Engeland, ESPN en verskeie Indiese uitsaaiers.
Die enigste struikelblok is Gibbs se moontlike deelname aan die plaaslike Pro20-reeks, wat met die eerste helfte van die WB-toernooi bots. Die WB-toernooi begin op 19 Februarie en duur tot 2 April.
Die Pro20-reeks in Suid-Afrika begin einde Januarie en die eindstryd word eers op 19 Maart beslis.
Donne Commins, Gibbs se agent, het Maandag bevestig dat daar met verskeie internasionale uitsaaiers onderhandel word.
“Hy het verskeie aanbiedinge gekry en ons is besig om dit op te weeg teen sy begeerte om vir die Cape Cobras in die Pro20-reeks te speel,” het hy gesê.
André Odendaal, die Cobras se uitvoerende hoof, het gister aan Sport24 bevestig dat hulle later vandeesweek met Gibbs sal vergader.
“Ons wil so gou moontlik met Herschelle praat om presies uit te vind wat sy situasie is.”
Ofskoon daar onsekerheid is oor Gibbs se deelname in die Pro20-reeks, gaan hy later vandeesmaand in Nieu-Seeland se t20-reeks vir die Northern District Knights in aksie wees.
Gibbs se kontrak met Krieket Suid-Afrika is die afgelope naweek beëindig.
Selfs die administratiewe proses is nie sonder omstredenheid afgehandel nie. KSA het Vrydagmiddag laat ’n nuusverklaring uitgestuur waarin hy bevestig het dat hy en Gibbs ooreengekom het om sy kontrak op te skort.
Die verklaring het egter begin deur te sê dat KSA Gibbs se kontrak beëindig het.
Saterdag moes die beheerliggaam nog ’n verklaring uitstuur waarin hy Gibbs om verskoning gevra het omdat daar feitefoute in die oorspronklike verklaring was.
Die tweede verklaring het dit duidelik gemaak dat dit ’n gesamentlike besluit tussen KSA en Gibbs was om die kontrak te beëindig.
* Indië begin sy voorbereiding vir die komende toetsreeks teen Suid-Afrika vandag hier wanneer sy afrigter, Gary Kirsten, en ’n paar van sy spelers by die Claremont-krieketklub in Constantia vir ’n oefening aantree.
Kirsten en die spelers wat nie in die eendagreeks teen Nieu-Seeland speel nie, het reeds hier aangekom in ’n poging om te akklimatiseer.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24