Harris in riller-draaistryd teen Peterson
2012-01-26 07:31
Kaapstad. – Paul Harris gaan van Donderdag af kans kry om die nasionale keurders verkeerd te bewys, wanneer die Titans die Cape Cobras op Bolandpark in die Paarl die stryd aansê.
Harris het plek gemaak vir Robin Peterson in die Proteas se toetsgroep vir die reeks van drie toetse in Nieu-Seeland in Maart.
Peterson gaan die Cobras se aanslag lei in toestande wat albei boulers behoort te help in dié SuperSport-kragmeting.
Die Kaapse streekspan is tans die voorloper in die meerdaagse reeks, met die Titans wat in sy nek blaas. Die Cobras sal egter in die binnebaan wees om dié reeks vir die derde seisoen agtereenvolgens te wen as hulle met die Titans sou afreken.
Die Cobras gaan straks twee draaiers, Petersen en Dane Piedt, in die beginspan kies met die hoop dat die blad sy gebruiklike hulp aan die draaiboulers gaan verleen.
Die Cobras se naat-aanval is verswak weens Rory Kleinveldt (spiere in sy linkerbobeen) en Justin Kemp (rug) se beserings en Vernon Philander, wat op nasionale aandrang, moet rus.
Kemp, die Cobras se suksesvolle kaptein, gaan straks die res van die SuperSport-reeks misloop. Sy besering het darem die deur oopgemaak vir Dane Vilas.
Vilas moes plek maak vir die Mark Boucher, wat weer terug is agter die paaltjies. Vilas is egter vergoed vir sy uitstekende peil met die kolf deur as kolwer plek te kry.
*Die Warriors kan nie meer die SuperSport-reeks wen nie, maar Jon-Jon Smuts kan wel ’n kolfrekord laat spat, skryf Henk Steenkamp.
Smuts het dié seisoen reeds 706 lopies vir die Oos-Kapenaars geslaan en sal van vandag af in Durban teen die Dolphins ’n sleutelspeler wees.
Die rekord in Smuts se visier is om die meeste lopies vir die Warriors in ’n SS-seisoen aan te teken. Hy is 121 lopies agter Arno Jacobs se poging sewe seisoene gelede, maar hy het drie wedstryde om dit te doen.
*Ryan McLaren en Ryan Bailey sal hul terugkeer vir die Knights teen die Lions in dié spanne se SuperSport-krieketwedstryd van vandag af in Johannesburg maak, skryf Johann de Jager.
Die Knights het met die vorige wedstryd hul eerste nederlaag in die meerdaagse reeks teen die Cobras gely.
Die Lions is ná agtereenvolgende weg-seges, oor die Titans en die Warriors, nou ook een van die vier spanne in die pylvak met nog drie wedstryde oor.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24