'Harde werk lê voor' – AB
2012-01-16 22:10
Bloemfontein – AB de Villiers, in sy eerste reeks as kaptein van Suid-Afrika se eendagspan, het gesê die Proteas kan nie op hul louere rus terwyl hulle poog om ‘n reeksoorwinning oor Sri Lanka te beklink nie.
Die gasheerspan het voor die derde wedstryd in die reeks ‘n voorsprong van 2-0 en ‘n oorwinning in Bloemfontein Dinsdag sal beteken Suid-Afrika het die reeks in die sakkie.
“Daar lê nog baie harde werk vir ons voor, maar ons sal daar uitgaan met alles wat ons het, die beste moontlike wedstryd probeer speel en hopelik bo uitkom.”
Sri Lanka het drasties verbeter sedert die eerste eendagstryd, waarin hulle vir slegs 43 lopies uitgeboul is. In hul tweede wedstryd het hulle ‘n wenteiken van 237 aan die Proteas gestel.
Die span se ster-kolwers, Kumar Sangakkara, Mahela Jayawardene en kaptein Tillakaratne Dilshan, het nog nie hul reputasies gestand gedoen nie, maar De Villiers glo hulle bly gevaarlik.
“Hulle is drie groot faktore en as hulle goed speel, sal ons probeer om die skade tot ‘n minimum te beperk,” het De Villiers gesê.
“So ons moet nou seker maak ons speel goeie krieket, fokus op ons kombinasies en ‘basics’ en indien ons dit goed doen, sal ons op die dag wen.”
Suid-Afrika sal sonder die veteraan Jacques Kallis, wat ‘n ruskans kry, moet speel. Die openingskolwer Hashim Amla het vanweë persoonlike verpligtinge uit die res van die reeks onttrek en die snelbouler Rory Kleinveldt is beseer.
De Villiers het egter gesê die laaste drie wedstryde van die reeks bied aan die Proteas die kans om dinge bietjie te skommel, met Alviro Petersen, Colin Ingram en Vernon Philander wat by die groep van 14 spelers ingesluit is.
“Dit is belangrik vir ons om die reeks te wen – dit kom eerste,” het De Villiers gesê.
“Dit is egter ook een van daardie reekse waar ons ‘n paar verskillende kombinasies wil probeer.
“Ons het ‘n groot toer na Nieu-Seeland wat wag, so Jacques is huis toe om uit te rus.
“Hashim Amla is saam met sy vrou [wie hul eerste kind verwag], maar gelukkig is dit nie onbekende ouens wat in die span in gekom het nie, so dit is opwindend vir ons.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA