Haider ‘sou nie speel’
2010-11-14 14:54
Rapport
Zulqarnain Haider se skok-bewerings van wedstrydknoeiery in die afgelope eendagreeks teen Suid-Afrika het Saterdag opnuut onder die vergrootglas gekom.
Dié 24-jarige paaltjiewagter het vandeesweek vanuit dié woestynstad na Brittanje gevlug, nadat hy glo doodsdreigemente van ’n beroepswedder ontvang het.
Haider het kort ná sy aankoms in Londen onthul dat ’n onbekende man hom kort voor die vierde wedstryd gevra het om die uitslag van dié, asook die beslissende kragmeting drie dae later, te help beknoei.
Sou hy weier, het dié man glo gedreig om hom en sy gesin te vermoor.
Die teen-korrupsie-eenheid van die Internasionale Krieketraad (IKR) én die Pakistanse krieketraad (PCB) het vir dae lank ná sy verdwyning probeer om met Haider in verbinding te tree – maar sonder sukses.
’n Pakistanse dagblad het egter berig dat dié lenige speler van Lahore “buitendien sy plek sou afstaan aan Umar Akmal” vir die vierde kragmeting om meer lyf te gee aan die sukkelende Pakistanse kolflys.
’n Enkelbesering het die nasionale keurders egter gedwing om Haider in te sluit, waarna hy ’n vegtersbeurt gespeel het om dié wedstryd vir die tuisspan te help wen en die reeks met 2-2 gelykop te maak. Suid-Afrika het die laaste kragmeting met 57 lopies en die reeks met 3-2 gewen.
Volgens dié koerant het spanbronne gesê Haider “sou buitendien weggelaat geword het vir die beslissende stryd” en dat hy “lank voor die wedstryd daarvan ingelig” is.
Haider kruip steeds weg in Londen en het vroeër sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.
Dit het ook pas aan die lig gekom dat Haider en twee van sy spanmaats beboet is nadat hulle die span se aandklokreël ná die vierde wedstryd verbreek het. Terselfdertyd het die IKR ’n tribunaal aangewys om verdere ondersoek in te stel na die knoei-bewerings teen nóg drie Pakistanse spelers.
Salman Butt, Mohammad Asif en Mohammad Amir is voorverlede maand geskors nadat hulle glo met die erkende beroepswedder Mazhar Majeed ooreengekom het om opsetlik foutballe af te stuur in die Lord’s-toets teen Engeland.
Dié paneel bestaan uit die Suid-Afrikaner Albie Sachs, Sharad Rao van Kenia en die IKR se Michael Beloff.
Beloff het laas maand die appèl-aansoeke van Butt en Amir van die hand gewys.
- Rapport