Haddin, Johnson se beurte sal nog lank by Proteas spook
2011-11-22 07:07
Johannesburg – Graeme Smith en sy Proteas sal langer as twee jaar moet wag om weer kans te kry om ’n streep te trek deur een van die krieketrekords wat dekades lank by dié span spook.
Dit volg nadat Australië gister hier Suid-Afrika met twee paaltjies in ’n riller van die tweede en laaste toets geklop en sodoende die reeks met 1-1 gelykop laat eindig het – ondanks ’n begeesterde boulvertoning deur Vernon Philander (5/70).
Smith-hulle, wat die rekordboeke drie jaar gelede herskryf het met reeksseges in Engeland en Doer Onder, kon sedert hertoelating steeds nie in ’n tuisreeks teen die Aussies seëvier nie.
Trouens, die laaste keer dat die Suid-Afrikaners dit vermag het, was in die 1970-’71-seisoen.
Dié spanne is nou eers weer in Februarie 2014 in Suid-Afrika slaags.
Getrou aan die eerste vier dae, het sake gister in ’n dolleë Wanderers-stadion weer wipplank gery. Dit was grootliks te danke aan ’n verlammende vennootskap tussen Brad Haddin (55 lopies, 106 balle, 7x4) en Mitchell Johnson (40*, 47 b, 6x4) en natuurlik Pat Cummins (13*, 15 b, 2x4) dat die besoekers die grootste wenteiken in die geskiedenis van toetskrieket in die Bullring kort ná 17:00 kon kafdraf.
Philander, in net sy tweede toets, het reeds in die vierde beurt van die dag toegeslaan deur Michael Clarke (2, 16 b) met ’n soortgelyke aflewering skoon te boul as waarmee hy eergister ook van Shane Watson ontslae geraak het.
Toe Morné Morkel (1/43) kort daarna die belangrike paaltjie van Ricky Ponting (62, 138 b, 6x4) ingepalm het, was die tuisspan stewig in die saal.
Die Aussies het nog 145 vir ’n sege benodig en Mike Hussey en Haddin was die laaste van hul erkende kolwers.
Dié twee het langer as ’n uur vasgeskop en hoewel hul vennootskap van 50 teen ’n slakkepas was, was die toerspan weer binne bereik van die verlangde teiken van 310.
Philander het weer die deurbraak bewerkstellig deur Hus- sey (39, 77 b, 3x4) been voor paaltjie te betrap toe die teepouse in sig was.
Skielik was Haddin, wat voor gister net 21 lopies in dié reeks kon aanteken, die Aussies se groot hoop en die Proteas se belangrikste teiken.
Ondanks ’n paar benoude oomblikke teen Dale Steyn (1/98) en Imran Tahir (1/63), het dié paaltjiewagter en Johnson byna die kastaiings uit die vuur gekrap.
Smith se laaste hoop was op die tweede nuwe bal gevestig en Philander het nie teleurge- stel nie deur byna onmiddellik van Haddin ontslae te raak voordat Steyn ook Peter Siddle (4, 7 b) teruggestuur het kleedkamer toe.
Cummins het hom by Johnson aangesluit en met volwassenheid en ’n kalmte, wat nie van ’n 18-jarige in só ’n situasie verwag word nie, die verlangde lopies met ’n trekhou van Tahir se boulwerk af na middebaan aangeteken.
Hou: Mitchell Johnson se reguit-dryfhou van Morné Morkel se boulwerk af om hom tot 18 lopies te neem.
Aflewering: Die bal waarmee Vernon Philander die Aussie-kaptein, Michael Clarke, vir 2 lopies geboul het.
Tweestryd: Dale Steyn en Brad Haddin wat soos twee bulhonde slaags was. Steyn het hom vroeg in sy beurt teen die kopskerm raak geboul, maar Haddin het eindelik dié tweestryd gewen.
Vennootskap: Die 72 lopies tussen Haddin en Johnson om die sewende paaltjie.
Oomblik: Toe die skeidsregter, Ian Gould van Engeland, nie vir Pat Cummins uitgegee het nie met nog 4 lopies benodig.
Helde: Die 18-jarige Cummins en Johnson wat die laaste 18 lopies aangeteken het vir die Aussie-oorwinning.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24