Groot skeidsregter sterf
2009-08-18 14:24
Oos-Londen – Wilf Diedricks, een van Suid-Afrika se mees ervare skeidsregters, is Dinsdag in Durban dood na ‘n lang siekbed.
Hy is op 6 Maart 1945 in Kaapstad gebore en het op die ouderdom van 64 gesterf. Diedricks het skoolgegaan by die Harold Cressy Hoërskool in Kaapstad.
In die 1970s het hy in die Durban nie-rassistiese ligas gespeel toe hy besluit het om ‘n skeidsregter te word.
Hy het ‘n belangrike rol in die totstandkoming van die Natalse raad vir skeidsregters gespeel, asook later die soortgelyke liggaam vir Krieket Suid-Afrika (KSA).
Diedricks was vir 15 jaar by Howa Bowl skeidsregter.
Na krieket in die vroeë 1990’s vir alle rasse oopgemaak is, het Diedricks sy eerste verskyning saam met Brian Jerling in die wedstryd tussen die Oostelike Provinsie B en Natal B in Port Elizabeth in 1991/92 gemaak.
Diedricks se eerste vier-dag wedstryd was by St. Georges Park in Port Elizabeth tussen Oostelike Provinsie, gelei deur Kepler Wessels, en die Oranje-Vrystaat met Hansie Cronje as kaptein.
Hy was skeidsregter van een Toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Indië in 1992/93 in Port Elizabeth.
Hy was betrokke by 31 eendagwedstryde tussen 1992 en 2001, waarvan die laaste ‘n wedstryd tussen Suid-Afrika en Kenia in Oktober 2001 was.
- Sapa