Gratis raad aan Sri Lanka
2012-01-19 07:01
Bloemfontein – “Duik, kyk en gooi.”
Só eenvoudig, is hoe Faf du Plessis die paar sekondes beskryf waarin hy Dinsdag hier met ’n dodelike trefgooi van Sri Lanka se gevaarlike Kumar Sangakkara ontslae geraak het.
Du Plessis het sy briljante stukkie veldwerk later met 72 lopies van 74 balle opgevolg nadat hy op nommer vier gaan kolf het.
Sy beste vertoning nóg met die kolf vir die Proteas het gehelp dat Suid-Afrika met sy sege met 4 lopies volgens die Duckworth-Lewis-metode in die derde eendagwedstryd tussen die spanne ook die reeks wen.
Du Plessis is vir sy veelsydige vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.
As teenvoeter vir Du Plessis se “duik, kyk en gooi,” sal die Eilandmanne nie verkeerd gaan as hulle die destydse padveiligheidswenk “Kyk, dink en bly leef” nou hul leuse maak nie.
Du Plessis sê hy is bly dat hy op die oomblik die paaltjies raakgooi – iets waarvoor jy ook ’n tikkie geluk aan jou kant moet hê.
Die kaptein, AB de Villiers, het verduidelik die wedstrydsituasie het verlang dat hy (AB) laer af moes gaan kolf, wat aan Du Plessis toe die geleentheid gebied het om vroeër te gaan kolf.
“Ek was dankbaar vir die geleentheid om vroeër te gaan kolf.
“Ek is met die vorige paar wedstryde met net ’n paar boulbeurte oor ingespan.
“Dit was lekker om dié keer ’n kans te kry om myself ’n bietjie uit te leef.”
- Sri Lanka se kaptein, Tillakaratne Dilshan, het gesê die uithardloop van twee van hul top-kolwers, Sangakkara (38) en Mahela Jayawardene (15), het hulle die wedstryd gekos.
Die feit dat talle van hul kolwers op dreef was net om hul paaltjies te verloor, is een aspek wat aandag sal moet kry. “Minstens een van die kolwers moet teen die einde nog daar wees.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg