Graeme hang aan 'n draadjie
2012-01-22 07:03
Kaapstad – Graeme Smith se toekoms in die nasionale eendagspan hang aan ’n draadjie, met die nasionale krieketkeurders wat vandag sy lot gaan beslis.
Die keurders – Andrew Hudson, Corrie van Zyl, Vincent Barnes, Shafiek Abrahams en die afrigter, Gary Kirsten – moet ’n toergroep kies vir die reeks na Nieu-Seeland, wat op 17 Februarie met die eerste van drie Twintig20-wedstryde begin.
Smith het Vrydag 68 in Kimberley gemoker in die Proteas se nederlaag teen Sri Lanka. Ofskoon hy meer soos die Smith van ouds gelyk het, moet ’n mens toegee dat dit op die mees kolwersvriendelike kolfblad in Suid-Afrika was.
Hudson het vandeesweek aan Rapport gesê twee van die groot gesprekspunte vir die keurkomiteevergadering is die toekoms van Smith in eendagkrieket en Mark Boucher in die toetsspan.
“Ek wil nie oor spesifieke spelers kommentaar lewer nie, maar Graeme se toekoms in eendagkrieket sal beslis bespreek word,” het Hudson gesê.
Die grootbaas van die keurders het beaam dat daar ’n moeilike jaar op die Proteas wag met wegreekse in Nieu-Seeland, Engeland en Australië.
“Ons moet dus seker maak dat ons nie te veel veranderinge maak en ’n té jong span vir die reekse kies nie. Daar is beslis ’n paar areas waarna ons gaan kyk,” het Hudson bygevoeg.
Smith se sukkelende spelpeil laat egter die vraag laat ontstaan of hy steeds op lang termyn ’n opsie vir die eendagspan is.
Smith het in 2009 laas ’n honderdtal in eendagwedstryde vir die Proteas aangeteken – en het in die 35 wedstryde sedertdien maar net 6 vyftigtalle gemoker. Hy het 1007 lopies in dié wedstryde teen ’n armsalige gemiddelde van net 29.61 aangeteken.
En dit sluit Vrydag se 68 in.
Dit is bloot net nie goed genoeg vir ’n aanvangskolwer op dié vlak nie. As hy nie kaptein vir die meeste van dié wedstryde was nie, sou hy lankal gepos gewees het.
Smith het egter die laaste jaar of wat gewys dat hy steeds doeltreffend in toetskrieket is. Sedert daardie eendag-honderdtal in 2009, het die kaptein in 19 toetse vir Suid-Afrika gespeel. Hy het 5 honderdtalle en 5 vyftigtalle in dié tydperk gemoker teen ’n heel skaflike gemiddelde van 45.74.
Dit is in die belang van Smith die toetsspeler dat hy nou eerder nét op meerdaagse krieket konsentreer. Dit sou die Proteas in Nieu-Seeland baie meer gebaat het as Smith dié maand vir die Cobras in die SuperSport-reeks gespeel het om sy spelpeil klopdisselboom te kry vir die Kiwi’s, pleks daarvan om te skrop voor die penne teen Lasith Malinga.
Hudson het ook bevestig dat daar veral met die eendagspan “meer gewaag gaan word” wat die keuse van spelers betref.
“Ons het drie jaar voor die volgende Wêreldbeker-toernooi – en dit gee ons die kans om ’n bietjie te waag met die keuse van die eendagspan,” het Hudson gesê.
Smith is egter nie die enigste ervare Protea wat in die spervuur is nie.
Mark Boucher veg vir sy toekoms in toetskrieket ná ’n swak reeks teen die Sri Lankane.
Dié paaltjiewagter hou die rekord vir die meeste toetsslagoffers in die geskiedenis van die spel, maar hy sukkel al geruime tyd met die kolf én die handskoene.
Hudson wou nie oor moontlike opvolgers vir Boucher praat nie, maar hy het gesê die posisie van paaltjiewagter sal “beslis” deur die keurders bespreek word.
Een van die korttermyn-opsies is die Suid-Afrikaanse A- en Lions-paaltjiewagter, Thami Tsolekile.
Dié voormalige Kapenaar is al jare lank een van die beste paaltjiewagters in die land, maar daar was nog altyd vrae oor sy kolfwerk.
Hy het egter met rasse skrede in die laaste klompie jaar verbeter. Sedert hy Kaapstad vir Johannesburg drie jaar gelede verruil het, het Tsolekile ’n indrukwekkende gemiddelde van 45.92 in eersterangse krieket gehandhaaf.
Die ander kolwer wat onder bespreking sal wees, is Jacques Rudolph.
Dié begaafde hotklou is vanjaar weer ’n kans gegun, maar hy het nog nie heeltemal die mas opgekom in die vier toetse sedert sy terugkeer nie.
Hy sal heel waarskynlik nog ’n kans kry om te wys dat hy in die span hoort.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24