G'n oud en stadig, sê Kallis
2012-01-05 07:31
Kaapstad – Jacques Kallis hoop sy tweede dubbele honderdtal het gewys daar skort nog niks met sy sig nie.
Só het dié Kaapse kolfyster gister gekap na sy kritici ná sy spogbeurt van 224 lopies op die tweede dag van die beslissende kriekettoets teen Sri Lanka op Nuweland.
Danksy Kallis en AB de Villiers (160) kon die Proteas eers ’n yslike 580/4 opstapel en wink ’n eerste tuisreekssege in meer as drie jaar nadat hulle daarna ook twee Sri Lankaanse paaltjies platgetrek het voor uitskeityd.
Kallis, wat in sy 150ste toets speel, het slegs die sewende Suid-Afrikaner tot nog toe geword wat twee keer ’n dubbele honderdtal bereik.
Hy moes die afgelope week ’n stortvloed kritiek verduur ná sy agtereenvolgende nulletjies in die tweede toets in Durban, wat die Suid-Afrikaners met 208 lopies verloor het.
“Gelukkig lees ek nie juis koerante nie, maar ’n paar van my pêlle het my vertel wat alles oor my geskryf is ná die laaste toets,” het Kallis gesê.
“Dis belaglik om te hoor dat jy ná een swak wedstryd skielik te oud en te stadig is en dat jou oë kwansuis nie meer goed genoeg is nie.”
Dié 36-jarige veteraan het eergister slegs die derde speler ter wêreld geword wat meer as 2 000 toetslopies op dieselfde veld kon aanteken.
Hy het nou reeds 2 098 lopies in 20 toetse op Nuweland gemoker.
Dit is iets wat net Engeland se Graham Gooch (op Lord’s in Londen) en Mahela Jayawardene (op die SSC in Colombo) al kon doen.
“Nuweland het beslis ’n baie spesiale plek in my hart en ek geniet dit duidelik om hier te speel,” het Kallis gesê.
“Ek het hier grootgeword en is gemaklik met die plek én die ondersteuners behandel my altyd baie goed.”
Volgens Kallis is die tuisspan stewig in die saal om vir die eerste keer sukses te behaal in ’n toetsreeks op tuisbodem sedert hy Bangladesj in Desember 2008 met 2-0 geklop het.
“Ek is vol vertroue dat ons 20 paaltjies kan plattrek om te wen,” het hy gesê.
“Die kolfblad het reeds begin verkrummel en ons moet net die bal op die regte plekke plant,” het hy bygevoeg.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter