G'n fout met Boucher, sê Smith
2012-01-07 07:33
Kaapstad – Mark Boucher (35) se twyfelaars moet maar vrede daarmee maak dat hulle die paaltjiewagter nog lánk in die Suid-Afrikaanse krieketspan gaan sien.
Graeme Smith, die Protea-kaptein, het Vrydag geskerm vir sy jare lange spanmaat kort nadat die tuisspan sy eerste reekssege op tuisbodem in meer as drie jaar behaal het.
Smith-hulle het Sri Lanka in sy tweede beurt in die beslissende toets op Nuweland vir 342 uitgeknikker en dié kragmeting met 10 paaltjies en die reeks met 2-1 beklink.
Gerugte het Vrydag op Twitter die ronde gedoen dat Boucher sou uittree ná ’n sukkelvertoning. Die Oos-Kapenaar, wat die wêreldrekord hou vir die meeste slagoffers, sukkel geruime tyd met die kolf en het eergister boonop twee vangkanse verbrou.
Die name van Thami Tsolekile, Heino Kuhn en Quinton de Kock word reeds genoem as moontlike plaasvervangers wanneer die Proteas aanstaande maand na Nieu-Seeland vertrek vir ’n reeks van twintig20-, eendaagse en toetswedstryde.
Dié span kruis daarna ook swaarde in wegreekse teen Engeland en Australië.
Veral een van Boucher se blapse, toe die Sri Lankaanse kolwer Lahiru Thirimanne ’n verspot maklike kans gebied het in die besoekers se tweede beurt, het mense laat gons.
“Ek dink beslis nie Mark is ’n probleem in die span nie, want daai was die eerste maklike vangkans wat hy laat val het in baie jare,” het Smith gesê.
“Hy het onlangs nog ’n klomp vangkanse in Centurion (in die eerste toets) benut en toe was almal weer dol oor hom.”
Volgens Smith is Boucher se bestendigheid die afgelope dekade straks sy groot kruis.
“Dis juis omdat dit so selde met hom gebeur dat sommige mense nou so te kere gaan. Dit gaan bepalend wees om Mark steeds agter die paaltjies te hê, veral wanneer ons in Engeland speel.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24