Gibbs wil 438-wedstrydtrofee weg-Tweet
2011-01-26 09:09
Kaapstad – Krieketliefhebbers gaan volgende week die kans kry om Herschelle Gibbs se gesogte 438-wedstrydtrofee te wen.
Dié voormalige Proteas-ster het Maandag op Twitter gesê hy gaan dié prys volgende week aan een van sy Twitter-aanhangers gee. Hy het die trofee gewen toe hy in die beroemde eendaagse stryd tussen Suid-Afrika en Australië as die speler van die wedstryd vereer is.
Gibbs (36) het gister reeds van sy ou gedenkwaardighede weggegee. Die hemp en die pet wat hy in sy laaste eendaagse wedstryd gedra het, het reeds ’n nuwe baas.
Gibbs het 90 toetse en 248 eendaagse wedstryde vir Suid-Afrika gespeel, maar sy vertoning in die Proteas se beroemde sege oor Australië op die Wanderers in 2006 is die een waarvoor hy nog lank onthou sal word.
Gibbs se 175 lopies het die tuisspan in staat gestel om 438/9 te moker om die wedstryd en die reeks teen die Aussies te beklink.
Toe Gibbs gevra is waarom hy nou alles wil weggee, het hy prontuit geantwoord: “Die enigste ‘trofee’ wat ek wou wen, is ’n Wêreldbeker-medalje.
“Noudat ek weet dat ek dit nooit sal wen nie, gee ek nie om om die res weg te gee nie,” het Gibbs getweet.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24