Geen genade, sê Smith
2011-12-19 07:00
Johannesburg – Nóg van dieselfde. Dít is wat die Suid-Afrikaanse krieketafrigter, Gary Kirsten, van sy span verwag in die oorblywende twee toetse teen Sri Lanka – in Durban en Kaapstad – nadat Graeme Smith-hulle die besoekers in die eerste toets in Centurion binne drie dae met ’n beurt en 81 lopies vermorsel het.
Was dit ’n geval van Suid-Afrika wat so goed was of Sri Lanka wat so power was?
Waarskynlik iets van albei. Die besoekers se onvermoë om staande te bly op kolfblaaie wat, anders as op eie bodem, aan snelboulers hulp verleen, is weer beklemtoon.
Hulle het soos ’n span gekolf wat inderdaad agt maande laas salaris gekry het en volgens dié vertoning nie verdien om betaal te word nie.
Hulle het in die hele toets net 86.5 boulbeurte voor die paaltjies deurgebring. Slegs Thilan Samaraweera, met beurte van 36 en 32, het gelyk asof hy die Proteas se snelboulwerk in ’n mate kon hanteer.
Die Suid-Afrikaanse boulers moet darem ook krediet kry. Vernon Philander het briljant vertoon en spog met ’n wedstrydontleding van 10/102.
Hy het die besoekers se top-orde se onvermoë om aflewerings net buite die wegpen suksesvol te hanteer skitterend uitgebuit.
Met ’n voorsprong van 231 lopies op die eerste beurt kon Suid-Afrika Saterdagoggend bekostig om voluit aan te val.
Soos in die eerste beurt, is die Sri Lankane vroeg geskud en kon hulle nooit van dié terugslae herstel nie. Hul kaptein, Tillakaratne Dilshan (6), en hul voorste kolwer, Kumar Sangakkara (2), het die tweede keer in die toets misluk en toe Mahela Jayawardene (15) uitgehardloop is terwyl hy ’n lopie wou waag wat sy 10 000ste in toetskrieket sou wees, was die skrif op 37/4 aan die muur.
Mark Boucher het nie net vroeër in die dag sy vyftigtal voltooi nie, maar ook ses vangkanse agter die paaltjies benut om sy eie en Dennis Lindsay se Suid-Afrikaanse rekord vir die meeste vangskote in ’n beurt te ewenaar.
Dit was die vierde keer in sy loopbaan dat Boucher ses vangskote in ’n kolfbeurt benut het.
Smith het sy span geloof vir die intensiteit waarmee hy Saterdag gespeel het. Hy meen dit was selfs ’n beter vertoning as toe Australië verlede maand vir 47 lopies in Kaapstad uitgehaal is.
Daar is ’n nuwe mode-woord in die Proteas-kamp: “proses-gedrewe” ...en Smith erken hulle sal in Durban en Kaapstad moet wys hulle kán onverbiddelik wees deur voort te bou op die goeie werk wat in Centurion gedoen is.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24