Geen besering-kopsere vir Proteas
2012-02-07 23:00
Johannesburg – Mohammed Moosajee, die Proteas se spandokter, het die groen lig vir al die lede van die toergroep na Nieu-Seeland gegee.
Die groep vertrek Vrydag na Nieu-Seeland.
“Ek is bly om te sê dat daar omgesien is na al die klein beserings waarmee spelers gesukkel het ná die onlangse reeks teen Sri Lanka,” het Moosajee Dinsdag gesê.
“Spelers is laat rus en gerehabiliteer. Hulle het goed gereageer onder die toesig van hul fiksheidsafrigters en fisioterapeute by hul provinsiale spanne.”
Die toer na Nieu-Seeland sluit drie Twintig20-wedstryde, drie eendagwedstryde en drie toetse in.
“Elke groep sal ongeveer vyf dae nodig hê om te akklimatiseer weens die tydsverskil,” het Moosajee verduidelik.
“Die T20-span sal eerste vertrek, dan die res van die eendag-groep die volgende Vrydag en dan die res van die toetsspelers die week daarna.”
Moosajee het gesê hulle het die strategiese besluit gemaak om sekere spelers te laat rus tydens die Sri Lanka-reeks en in provinsiale wedstryde, eerder as om hulle ekstra tyd in die middel te gee.
Dit is gedoen om die spelers toe te laat om te herstel en hulself te versterk. Dit was ‘n besluit wat goed gewerk het.
“Ons het geen groot bekommernisse nie en die spelers het goed gereageer op die rus en rehabilitasie. Sommige van hulle het selfs in die Supersportreeks-wedstryde gespeel.”
AB de Villiers, kaptein van die T20- en eendagspan, het positief gereageer op behandeling vir ‘n chroniese gewrigprobleem. Colin Ingram, wat ook in die T20-groep is, het herstel van 'n skouerbesering. Graeme Smith is volledig fiks nadat hy in die middel van verlede jaar ‘n operasie aan sy knie ondergaan het.
“Hy het hard gewerk saam met sy fisioterapeut en fiksheidsafrigter om sy regterknie te versterk,” het Moosajee gesê.
Anders spelers wat beseringsprobleme gehad het en slegs die laaste deel van die toer sal meemaak is Vernon Philander en Imran Tahir.
“Vernon het vir die Cobras gespeel met sy enkel verbind en hy het geen nagevolge ervaar nie. Imran Tahir se regtersy het ook goed [op behandeling] gereageer.”
Moosajee is tevrede dat geen van hierdie beserings ‘n probleem sal wees wanneer die eerste groep spelers na Nieu-Seeland vertrek nie.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA