'Gee hardwerkende Corrie die geleentheid'
2010-02-02 10:00
Christo Buchner
Johannesburg - Corrie van Zyl verdien om ’n regverdige kans gegun te word om hom as afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan te vestig.
Morné van Wyk, die nuwe kaptein van die Diamond Eagles, wat jare lank onder Van Zyl vir dié Bloemfonteinse span gespeel het, beskou die nuwe tussentydse afrigter van die nasionale span as ’n “natuurlike leier wat presies weet wat hy doen”.
“Corrie het ’n wonderlike werketiek en jy sal ver soek om ’n meer hardwerkende afrigter as hy te kry. Hy is ook iemand wat baie integriteit het en dit is juis hierdie opregtheid van hom wat respek by die spelers afdwing.
“Hy is baie bestendig en jy weet altyd waar jy met hom staan. Die spelers sal dit van hom waardeer. Hy sê nie nou so en netnou iets anders nie,” het Van Wyk gister hier by die bekendstelling van die seisoen se Pro20-reeks, wat deur al ses kapteins van die streekspanne bygewoon is, gesê.
Jonty Rhodes, wat die borg Standard Bank verteenwoordig het, sê ook Van Zyl se werketiek is verstommend. “Toe hy die hulpafrigter saam met Graham Ford was, was dit verstommend hoeveel werk hy ingesit het,” sê Rhodes, wat saam met Van Zyl as speler en ook afrigter betrokke was.
“Sy ervaring sal in hierdie brose stadium vir Suid-Afrikaanse krieket van groot waarde wees. Hy is iemand wat ’n atmosfeer binne die span sal skep waarin elke speler kan ontwikkel.
“Dit is ook veral nou van groot belang om iemand as afrigter te hê wat sy stempel as bouler afgedruk het en wat weet hoe om met die boulers te werk,” sê Rhodes.
“As afrigter weet jy maar altyd wanneer jy ’n nuwe pos vat, dat dit bloot tydelik gaan wees. Daar word ook baie gepraat van Corrie se dissipline, maar dit is eintlik so ’n breë term.”
“Wat hy wel met die dissipline wat hy toepas sal regkry, is om die span in ’n hegte eenheid saam te snoer,” sê Van Wyk.
– Sport24