Gary Kirsten is nuwe afrigter
2011-06-06 16:54
Herman Mostert
Kaapstad – Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, Gerald Majola, het aangekondig dat die voormalige Protea-aanvangskolwer Gary Kirsten die nuwe afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan is.
Majola het dié aankondiging Maandag by ‘n mediakonferensie van KSA by die Sandton Konferensiesentrum gemaak.
Kirsten is aangestel met ‘n kontrak van twee jaar.
Sy eerste taak is om die span voor te berei vir die kragmetings met Australië, wat op 13 Oktober begin.
Russel Domingo, voorheen afrigter van die Warriors, is as Kirsten se assistent aangewys.
Die voormalige Protea-snelbouler Allan Donald sal die boulafrigter wees.
Die huidige boulafrigter, Vincent Barnes, se kontrak kom volgende mand tot ‘n einde. Hy sal nie op ‘n voltydse basis aangestel word ná dit nie, maar is ‘n pos by KSA se Hoë Prestasiesentrum aangebied.
Kirsten (43), wat 101 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, het onlangs teruggekeer nadat hy drie jaar lank die afrigter van die Indiese krieketspan was. Indië het vroeër vanjaar die krieketwêreldbeker verower.
Kirsten het gesê dié aanstelling is ‘n droom wat waar geword het. “Dit is iets wat ek nog altyd wou doen, en ek sien regtig uit daarna.
“Saam met my assistente (Domingo en Donald), kan ek julle verseker dat ons 100% in hierdie taak gaan sit en dit alles sal gee wat ons het.”
AB de Villiers is as die kaptein van die Eendagspan en die Twintig20-span aangewys. Hashim Amla sal die onderkaptein wees in die korter weergawes van die spel.
Graeme Smith bly aan as kaptein van die toetsspan.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter