Ford bedank skielik as Dolphins se breier
2012-01-18 09:00
Johannesburg – Graham Ford, ’n oud-afrigter van Suid-Afrika, het Dinsdag onverwags as afrigter van die Dolphins se krieketspan bedank.
In ’n mediaverklaring van die KwaZulu-Natallers word gesê Ford het gevra om van sy kontrak onthef te word omdat hy daarna streef om by ’n internasionale span betrokke te raak.
Ford kon nie vir kommentaar opgespoor word nie, maar daar word bespiegel dat hy dalk Pakistan of selfs Sri Lanka kan afrig.
Mohsin Kahn is Pakistan se tussentydse afrigter en sal na verwagting ná die reeks teen Engeland vervang word.
Dav Whatmore was egter vandeesweek in gesprek met die Pakistanse krieketowerhede in verband met die pos.
Daar is in September verlede jaar in Sri Lankaanse koerante bespiegel dat Ford as die nuwe afrigter van dié eilandspan kan oorneem.
Geoff Marsh is kort daarna vir ’n tydperk van twee jaar aangestel, maar hy is onder groot druk en daar is al selfs uit regeringskringe gebrom oor dié span se swak vertonings.
Ford het in die verklaring gesê hoewel hy ’n passie het vir Dolphins-krieket, wil hy graag die geleentheid hê om sy droom uit te leef om op internasionale vlak betrokke te raak.
Faeez Jaffar, voorsitter van die Dolphins, het gesê hulle is Ford ewig dankbaar vir sy bydrae en sal nie in sy pad staan om op ’n hoër vlak betrokke te raak nie.
Hy is in 2007 ook die pos aangebied as afrigter van Indië, maar het dit van die hand gewys.
Ford het in 1999 oorgeneem as Suid-Afrikaanse afrigter by Bob Woolmer en het die Proteas tot 2001 geslyp.
Hy was aan die stuur toe die Hansie Cronjé-bom oor wedstrydknoeiery gebars het.
Ford was in 2009 op die kortlys as Engelse afrigter, maar het hom onttrek.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg