Faf ingesluit op IKR-ranglys
2012-11-27 08:05
Johannesburg – Die Proteas-kolwer Faf du Plessis is ingesluit op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir toetskolwers ná sy skitterende vertoning teen Australië in die tweede toets wat onbeslis geëindig het.
Du Plessis, wat as plaasvervanger vir die beseerde veelsydige speler JP Duminy opgeroep is, het 78 lopies aangeteken in die eerste kolfbeurt en 'n onoorwonne 110 in die tweede kolfbeurt om die wedstryd vir die Proteas te red. Die reeks is tans gelykop op 0-0 en die laaste toets begin Vrydag in Perth.
Du Plessis beklee die 56ste posisie op die ranglys.
Hoewel Du Plessis 'n indrukwekkende eerste verskyning op die ranglys gemaak het, het Suid-Afrika se toporde-kolwers op die lys geval.
Jacques Kallis, wat 58 en 46 in Adelaide aangeteken het, is een posisie laer in die vierde plek op die ranglys, terwyl Hashim Amla, wat slegs 28 lopies in die wedstryd aangeteken het, drie plekke getuimel het na vyfde.
Michael Clarke, Australië se kaptein, het 230 lopies in die eerste kolfbeurt aangeteken en is die wêreld se voorste toetskolwer.
AB de Villiers het twee plekke geval en is nou in die agtste plek. Die Proteas-kaptein Graeme Smith, wat 'n honderdtal en 'n nulletjie in Adelaide aangeteken het, is een posisie laer in die 11de plek.
Intussen is Dale Steyn steeds bo-aan die ranglys vir boulers, terwyl Vernon Philander in die tweede plek is.
Morné Morkel, wat agt paaltjies in die wedstryd geneem het, is een posisie hoër in die agtste plek.
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA