Engelse slaan die 1ste slag op Lord's
2011-07-26 08:42
Londen. – Engeland het Maandag die eerste slag geslaan in die stryd teen Indië om te bepaal wie krieket se voorste toetsland is.
Andrew Strauss en sy spanmaats het Maandag die eerste toets hier op Lord’s met 196 lopies gewen nadat hulle Indië vir 261 in sy tweede beurt uitgehaal het.
Hoewel nie een van dié twee lande Suid-Afrika in die laaste paar jaar in ’n reeks kon klop nie, sal die uitslag van dié reeks die boonste plek op die Internasionale Krieketraad (IKR) se toetsranglys bepaal.
Indië is die nr.1-land op die ranglys, maar ’n mens sou dit nie sê as jy na die laaste vyf dae se spel gekyk het nie.
Engeland het na ’n beter gebalanseerde span gelyk en ’n mens moet jou afvra of Indië, veral met ’n hinkepink Zaheer Khan, genoeg skietgoed in sy boulaanval het.
Die Engelse held Maandag was die swaaibouler James Anderson. Hy het nie net die hart uit die Indiese kolflys geruk met sy 5/65 nie, maar hy het ook van die groot kanonne – VVS Laxman, Rahul Dravid en Sachin Tendulkar – ontslae geraak.
Engeland sal die tweede toets, wat Vrydag op Trent Bridge in Nottingham begin, met meer vertroue as die eerste toets ingaan.
Die twee groot vrae voor die Lord’s-toets was die spelpeil van die ster-kolwer Kevin Pietersen en die naatbouler Stuart Broad.
Pietersen het ’n dubbele honderdtal in die eerste beurt gemoker en Broad het 8 paaltjies laat kantel in die toets en ’n aanvallende kolfbeurt in sy span se tweede beurt gespeel.
In teenstelling daarmee sal Indië wonder of hy op Gautam Gambhir (elmboogbesering) en Zaheer (dyspier) kan staatmaak.
Indië het Maandag met die teepouse allig nog gehoop dat hy die toets sou kon red.
Suresh Raina (78) en Mahendra Singh Dhoni was besig om sake te beredder en Engeland het nog 5 paaltjies gekort.
Die laaste vyf paaltjies het in net 15 boulbeurte ná die pouse getuimel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24