Engelse krieketspan in bek geruk
2012-01-20 09:38
Doebai. – Dit is beslis nie meer 2011 nie.
Dít het die Engelse krieketspan Donderdag hier deeglik van kennis geneem toe hy in drie dae sy eerste kriekettoets van die jaar met 10 paaltjies teen Pakistan verloor het.
Engeland is vir net 160 in sy tweede beurt uitgeboul en Pakistan het die nodige 15 lopies sonder die verlies van ’n paaltjie aangeteken.
Engeland het verlede jaar soos ’n stoomroller alles voor hom in toetskrieket platgevee en ses van die agt toetse waarin hy gespeel het, gewen.
Die ander twee het onbeslis geëindig.
Sewe van dié agt toetse is egter by die huis gespeel in toestande wat ideaal is vir die Engelse span.
Om egter op die dooie kolfblaaie van die subkontinent sukses te behaal, was nog altyd ’n probleem vir Engeland en ná die vertoning hier lyk dit of dit steeds ’n probleem in 2012 gaan wees.
Engeland moet voor die einde van die jaar ook nog wegreekse in Sri Lanka en Indië speel.
Wat die nederlaag egter kommerwekkend vanuit ’n Engelse oogpunt maak, is dat die kolfblad nie regtig enige streke uitgehaal het nie.
Die telkaart wys 18 uit die 30 slagoffers in die toets is deur draaiers geëis, maar dit was nie aan ’n verweerde blad te danke nie.
Saeed Ajmal het met 10/97 in die wedstryd geëindig, maar hy het meestal die kolwers met sy lengte pleks van skerp draai geflous.
Dit was amper asof al die gepraat voor die wedstryd van sy nuwe “teesra-bal” met die Engelse se koppe gesmokkel het.
Engeland is vir 192 en 160 uitgeboul en die meeste van die blaam vir dié nederlaag kan voor die deur van die kolwers geplaas word.
’n Klomp swak houe is gespeel en Pakistan se boulers kon by tye sekerlik nie glo hoe vrygewig die Engelse kolwers was nie.
En dit was Umar Gul (4/63), ’n ervare naatbouler, pleks van Ajmal, wat Donderdag die meeste hierby gebaat het.
Hy het die Engelse se eerste drie paaltjies platgetrek met Andrew Strauss, Alastair Cook en Kevin Pietersen wat almal hul paaltjie op ’n skinkbord weggegee het.
Strauss kan effe verskoon word aangesien die skeidsregter Billy Bowden en die TV-skeidsregter, Steve Davis, oënskynlik die verkeerde beslissing gemaak het.
Strauss is agter die paaltjies gevang nadat ’n bal aan die bykant verby sy lyf geskiet het. Die Pakistani’s het geappelleer en Bowden het beslis dat hy randjie bygekry het.
Die gloeikol (Hot Spot) het egter geen merkie gewys nie en dit het ook op die kykweer gelyk asof die bal nie naby sy kolf was nie.
Engeland het toe nie net sy kaptein verloor nie, maar ook een van sy twee verwysings in die DRS (skeidsregterverwysingstelsel).
Die voormalige Suid-Afrikaner Jonathan Trott (49), wat gister die 2000-lopiekerf in toetskrieket verbygesteek het, en Graeme Swann (39) was die enigste twee kolwers wat meer as 20 in die tweede beurt gekry het.
Die tweede toets begin Woensdag in Aboe Dhabi.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24