Engelse kanonne sê nee vir IPL
2009-12-14 13:21
Londen – Die Engelse boulers Stuart Broad en James Anderson sal nie in volgende jaar se Indiese Premierliga (IPL) speel nie, het die Britse media Maandag onthul.
Die boulers het `n kans gestaan om die opwindende geleentheid te benut om baie geld te verdien in die IPL maar gaan eerder hulle volle aandag aan hul internasionale loopbane gee.
Andrew Flintoff het sy knie beseer tydens sy deelname aan die IPL verlede jaar terwyl Kevin Pietersen bewerings ontken dat hy sy Achilles-besering vererger het terwyl hy verlede jaar saam met die Bangalore Royal Challengers geoefen het.
BBC Radio het Broad, wat ook voorheen nee gesê het vir `n speelkans in Indië, aangehaal waar hy gesê het dat om sy land te verteenwoordig sy topprioriteit is.
- Sapa-AFP