Engeland-staatmaker onder die mes voor reeks om As
2013-03-07 07:06
Dunedin – Die Engelse wegbreekbouler Graeme Swann is in ’n stryd teen die horlosie gewikkel om betyds fiks te wees vir die krieketreeks om die As teen Australië later vanjaar, het Sport24 Donderdag berig.
Swann, wat nie by Engeland se beginspan vir die eerste kriekettoets teen Nieu-Seeland ingesluit is nie, se regterelmboog, wat hom al lank pla, se toestand het verswak, en hy sal ’n operasie moet ondergaan.
Dit beteken dat hy die res van die reeks teen Nieu-Seeland sal misloop. Hy hoop egter om weer fiks te wees vir die eerste toets teen Australië, wat op 10 Julie begin.
“Hy was duidelik nie in staat om vyf dae te speel nie,” het Alastair Cook, kaptein van Engeland, gesê.
Swann het verduidelik dat hy verlede week tydens ’n opwarmingswedstryd weer pyn in sy elmboog begin voel het.
“Ek weet dat my loopbaan in gedrang kan wees as ek nie nou dié operasie ondergaan nie.
“Die operasie is glo redelik eenvoudig en hopelik sal ek dus ná die operasie wakker word en alles is weer piekfyn. Ek is vol vertroue dat ek gou weer op my beste gaan wees,” het hy gesê.
– Lees hier meer.
– Reuters
– Volg Nuus24Sport op Twitter.