'Ek't oor Hansie gelieg' – Oud-Protea
2013-01-14 10:34
Johannesburg – Die oud-Protea Henry Williams het erken dat hy destyds gelieg het oor sy voormalige kaptein, Hansie Cronjé, se wedstrydknoeiery, volgens 'n berig in die Sunday Times.
Die voormalige bouler het in 2000 voor die Kings-kommissie van ondersoek getuig dat hy 'n aanbod van $15 000 (sowat R128 000) van Cronjé aanvaar het om minder as 50 lopies in 10 beurte af te staan in 'n eendagwedstryd teen Indië in Nagpur.
Volgens die Sunday Times beweer Williams nou dat sy getuienis sowel as die van Herschelle Gibbs deel was van 'n samesweerdery deur dié twee spelers se prokureurs om 'n sterker saak teen Cronjé te maak.
Cronjé is lewenslank uit krieket geskors nadat hy sy betrokkenheid erken het. Hy is in 2002 in 'n vliegongeluk dood.
Williams en Gibbs is albei vir ses maande geskors.
Williams het egter twee weke gelede, tydens 'n oefenwedstryd tussen 'n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan en Nieu-Seeland in die Paarl, aan Espncricinfo gesê dat sulke besonderhede nooit bespreek is nie en dat Cronjé met hom en Gibbs grappe gemaak het oor die "knoei-aanbod".
Hy beweer hy was onder druk om Cronjé "vas te trek".
Gibbs, wat tans in Australië se Big Bash-toernooi speel het, hom van Williams se uitlatings gedistansieer.
Die twee se destydse prokureurs, Mike Fitzgerald en Peter Whelan, het ontken dat hulle Williams oorreed het om vir die Kings-kommisie te lieg.
Whelan het gesê hulle geweet het dat Gibbs gelieg het en dat hulle druk op hom geplaas het om die waarheid te vertel.
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA