Duminy speel in Gibbs se plek
2011-11-11 10:06
Kimberley – JP Duminy sal die beseerde Herschelle Gibbs dié naweek in die Cape Cobras se twee eendagwedstryde vervang.
Gibbs het gister bevestig hy het ’n wond met ses steke aan sy hand, die gevolg van ’n verbroude vangkans in die Cobras se vorige kitswedstryd, teen die Lions.
Duminy is intussen van die Proteas-toetsgroep vrygestel om vandag vir die Cobras in Port Elizabeth teen die Warriors en Sondag in Benoni teen die Titans te speel.
Die wedstryd vandag in die Baai tussen die twee vroeë voorlopers in die reeks beloof vuurwerk.
Die tuisspan sal waarskynlik nie sy elftal verander nie. Nicky Bojé sal straks weer die beurt begin ná sy vyftigtal in die kragmeting met die Dolphins.
In vandag se ander twee wedstryde speel die Lions teen die Knights in Kimberley en die Dolphins teen die Titans in Centurion. Die Dolphins hoop om die eerste keer op die wenpad te kom. Trouens, hulle hoop om die eerste keer dié seisoen ’n wedstryd te voltooi nadat al drie hulle eerste wedstryde, almal tuis, uitgereën het.
Desondanks het die Dolphins ses ligapunte, nes die Cobras en die Warriors.
Die Lions behoort geweldig gefrustreerd te wees. Hulle het teen die Titans en die Cobras slae gekry, waarna hul wedstryd Woensdag in Durban deur reën kortgeknip is.
Hulle pak die Knights wat gemengde welslae in hul twee wegwedstryde tot dusver behaal het.
Die Knights behoort ná hul sege oor die Titans vol selfvertroue te wees. Quinton Friend is die eerste keer in die Knights se groep van 13 spelers ingesluit.
Werner Coetsee, ’n uitblinker met die bal én die kolf in die eerste wedstryd, teen die Warriors, kan dalk ook teen sy voormalige spanmaats oorweeg word.
Die Knights en die Warriors raak Sondag in Bloemfontein in ’n herontmoeting slaags.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24