Druk op groen Proteas
2011-10-11 13:15
Kaapstad – Suid-Afrika se onervare kolwers sal die grootste gros van die Proteas se lopies moet aanteken in Donderdag se eerste twintig20-krieketstryd teen Australië, aangesien die afwesigheid van Albie Morkel ’n groot gaping in die kolflys gelaat het.
Morkel, die Proteas se gevaarlike mokerman, is vier drie tot ses weke buite aksie met ’n maagspier-besering.
Die paaltjiewagter Heino Kuhn sal waarskynlik hier op Nuweland op nommer 6 kolf, wat beteken dat Johan Botha en Robin Peterson op nommer 7 en 8 sal instap.
Hoewel albei draaiboulers die vermoë het om die kolf in te lê, is boulwerk albei se eerste prioriteit.
Kuhn, wat speelkans kry in die beseerde AB de Villiers se plek, het gesê Morkel se afwesigheid beteken dat hy en die boulers beslis meer druk op hulle het.
Die Proteas se nuweling, Richard Levi, sal straks die beurt begin saam met die toetskaptein, Graeme Smith, terwyl die instaankaptein, Hashim Amla, in die beseerde De Villiers se plek op nommer 3 sal instap.
Levi speel gelukkig voor sy tuisskare en het ten minste in plaaslike blitskrieket gewys dat hy vir niemand hoef terug te staan nie.
Hy is veral dodelik aan die bykant en het die vermoë om veral snelboulers streepsuiker te gee.
Smith het ’n baie goeie vertoningslys in t20-krieket, maar hy het die afgelope ses maande bitter min krieket gespeel.
Die toetskaptein het pas van ’n kniebesering herstel en die enigste wedstrydoefening wat hy agter die blad het, is twee t20-wedstryde vir Claremont in die Westelike Provinsie se klubliga.
Amla het verlede naweek ’n dubbele honderdtal in die SuperSport-reeks aangeteken, maar hy is nog onervare in die kortste weergawe van die spel.
Donderdag se wedstryd sal maar slegs die vierde keer wees dat hy vir Suid-Afrika blitskrieket speel.
Met JP Duminy op nommer 4 in die kolflys, is die groot oorblywende vraag wie die keurders op nommer 5 gaan kies.
Die keuse is tussen twee van die spelers wat verlede seisoen hul buiging vir die Proteas gemaak het, David Miller en Colin Ingram. Miller het die vermoë om groot sesse te moker en dít sal waarskynlik in sy guns tel.
Kuhn het gesê hy benader dié kragmeting asof dit ’n Wêreldbeker-eindstryd is.
"Dis een van die dinge wat ek by AB geleer het. As jy ’n kans kry, moet jy dit gebruik.”
Intussen sal die Aussies sonder Brett Lee in die t20- en eendagwedstryde oor die weg moet kom.
Hy is gisteraand hier in ’n hospitaal opgeneem om sy blindederm te verwyder.
Hy sal sowat twee maande lank buite aksie wees.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld