Dramatiese einde wink
2011-11-21 07:03
Wanderers – Ricky Ponting veg nie net vandag om sy eie krieketlewe nie, hy staan ook vierkant tussen Suid-Afrika en ’n geskiedkundige sege in die dramatiese toetsreeks teen Australië.
Die toerspan benodig nog 168 lopies om dié toets te wen en die reeks met 1-1 gelykop te laat eindig ná sy nederlaag verlede naweek in Kaapstad.
Ponting (54*) en sy kaptein, Michael Clarke (1*), sal die besoekers se lopiejaagtog vanoggend op 142/3 hervat nadat die tuisspan se kolfstert hom vroeër in staat gestel het om 339 in sy tweede beurt aan te teken.
Daar is Sondag druk bespiegel dat dié beurt Ponting se laaste op die toetsveld kan wees nadat hy ’n skraal jaar beleef het met die kolf en voor sy vyftigtal in die sogenaamde Bullring tellings van 8, 0 en 0 in dié reeks behaal het.
Suid-Afrika se Hashim Amla en die besoekers se Pat Cummins was dit gister eens dat dié voormalige Aussie-kaptein en sy land se voorste lopiemaker vanoggend die sleutel hou: raak die Proteas vroeg van hom ontslae, is die stryd (en die reeks) halfpad gewonne, maar bly hy veel langer staan, klim die manne van Doer Onder straks môre op die vliegtuig na Sydney met die toetslouere gedeel.
“Sake is baie gelykop en die eerste uur môre (vandag) gaan bepalend wees,” het Amla gesê nadat sy tweede honderdtal van die reeks en die 14de van sy loopbaan vroeër stukrag gegee het aan die Proteas-kolfbeurt.
“Pontingsevertoningslys spreek vanself en ons het geweet hy sal nie maklik boedel oorgee nie, maar as ons hom vroeg kan uithaal, sal die druk beslis op hulle wees.” Amla sê Usman Khawaja se paaltjie kort voor die uitskeityd, het die skaal effens terugin die tuisspan se guns geswaai.
Dié 24-jarige linkskolwer het 65 aangeteken en ’n vennootskap van 122 om die derde paaltjie met Ponting gedeel nadat Vernon Philander (2/31) vroeg reeds albei die Aussie-aanvangskolwers, Shane Watson (0) en Phil Hughes (11) uitgehaal het.
Imran Tahir (1/23) het in die laaste beurt van die dag van Khawaja ontslae geraak. “Om so laat toe te slaan, het ongetwyfeld aan ons die momentum besorg. Enigiets kan nog gebeur, maar jy sal beslis eerder in ons kleedkamer wil wees as in hulle s’n.”
Cummins, wat Sondag op een na die jongste speler tot nog toe geword het wat ses paaltjies in sy eerste toets plattrek, het die Proteas gewaarsku dat die Aussies nog lank nie afgeskryf kan word nie. Dié 18-jarige snelbouler het syfers van 6/79 behaal en sy span gehelp om die Proteas-telling van 237/3 na 266/7 te verander voordat Dale Steyn (41) die wenteiken verby die 300-kerf gekry het.
“Om ses paaltjies in my eerste toets te laat kantel, voel steeds effe onwerklik, maar die belangrikste is dat dit die span gehelp het om nou in ’n wenposisie te wees,” het Cummins gesê.
“Ricky bly een van die gevaarlikste kolwers en hy het vandag (Sondag) heel op sy gemak gelyk. As hy nog vir ’n ruk daar kan bly, het ons ’n groot kans om te wen.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg