Dominic skitter vir Jong Proteas
2010-01-21 10:24
Queenstown (Nieu-Seeland) – Suid-Afrika se onder 19-krieketspan het ’n uitstekende vertoning gelewer deur Australië
Woensdag met twee paaltjies te klop en deur te dring tot die kwarteindronde in die Wêreldbeker-toernooi.
Suid-Afrika het eerste in Groep B geëindig en kom Sondag teen Sri Lanka te staan.
Nadat die Aussies 276/7 gekry het, het Suid-Afrika (278/8) die wenlopies met twee balle oor geslaan.
Dominic Hendricks, die speler van die wedstryd, het 94 lopies geslaan en is goed ondersteun deur Cody Chetty (32) en Stephan Smith (30).
In die jong Aussies se beurt het Jason Floros (96) uitgetroon, met Tim Armstrong (48) en Alex Keath (64) wat ook stewig gekolf het.
Graham Hume (3/35), Kirk Wernars (2/45) en Malcolm Nofal (2/51) was die Suid-Afrikaners se beste boulers.
“Dit is baie opwindend om die Aussies te klop,” het Hendricks ná die wedstryd gesê. “Ons het dit amper weggegee teen die einde, maar die plan was om teikens vir elke tien beurte te hê. Ek het my beurt om dit gebou,” sê Hendricks.
“Die afrigter (Ray Jennings) het gesê ons moet dapper krieket gaan speel,” sê hy.
Hendricks en Josh Richards (27) het teen meer as ses lopies per beurt afgesit en is met die totaal op 65 in die tiende beurt geskei.
Paaltjies het later met reëlmaat geval, maar die kolfdiepte het gehelp dat die oorwinning behaal kon word. ’n Onoorwonne vennootskap van 20 lopies om die negende paaltjie tussen Dale Deeb en Hume het Suid-Afrika oor die wenstreep gekry.
Hendricks, wat in Port Elizabeth gebore is, speel van o.15-vlak af in Gauteng en het al drie wedstryde vir die Highveld Lions gespeel.
Hoewel hy net agt viere geslaan het, het hy soos ’n windhond tussen die paaltjies gehardloop en teen ’n treftempo van net minder as ’n lopie per bal gekolf.
“Ons het verlede maand teen Sri Lanka gespeel en weet wat om van hulle te verwag.
“Ons is glad nie oorgerus nie en neem dinge wedstryd vir wedstryd. Daar is nog ’n lang pad om te gaan in hierdie toernooi,” sê Hendricks. – Krieket Suid-Afrika
- Beeld