'Dit sal veel moeiliker raak' – AB
2012-01-12 22:03
Kaapstad – Die nuwe kaptein van die Proteas se eendagspan, AB de Villiers, het gesê sy nuwe rol in die span het ‘n perfekte begin gehad.
“Ek speel hierdie spel al lank genoeg om te weet dit gaan nie altyd so maklik wees nie, maar dit was ‘n goeie spanpoging en dit is wat my opgewonde maak,” het hy gesê nadat die Proteas Sri Lanka met 258 lopies vermorsel het.
De Villiers het erken dit was nie die toets waarvoor hy gehoop het nie, aangesien die Proteas in beheer was van die oomblik wat hulle die loot gewen het.
“Ons was van die begin af op die aanval, so my kapteinskap is nie werklik getoets nie,” het hy gesê.
“My moeilikste toets lê nog voor en die werklike toets sal wees wanneer ons onder druk is en ek met die boulers moet rondspeel en vinniger op my voete dink.”
Die Proteas het ‘n uitstekende begin tot die wedstryd beleef, met Hashim Amla wat ‘n honderdtal aangeteken het.
“Hash het my aan die begin van die wedstryd geluk gewens en my voorspoed toegewens. Ek het gesê hy kan my help deur ‘n honderdtal aan te teken,” het De Villiers gesê.
“Hy het dit duidelik ernstig opgeneem en uitgegaan en nét dit gedoen.
“Hy’s ‘n rots in die span. Hy teken gereeld lopies aan en hy’s nog jonk, so hopelik sal hy nog vir baie jare in die ronde wees.”
De Villiers het gesê dit was ‘n wedstryd waarin al hul planne bymekaar gekom het.
“Ek het die boulers gevra om met die nuwe bal in te hardloop en vroeg toe te slaan, wat hulle gedoen het. Hulle het met mening ingehardloop en dit laat werk,” het hy gesê.
Die tweede eendagstryd word Saterdag in Oos-Londen beslis.
De Villiers het gesê hulle benader een wedstryd op ‘n slag en dat elke wedstryd as ‘n vars begin hanteer sal word.
“Wat goed vir ons is, is dat ons op velde speel waar ons lanklaas was en dit leer ons om vinnig aan te pas by velde wat vir ons onbekend is,” het hy gesê.
“Ons het werklik goed gekommunikeer in die Paarl en boodskappe na die middel gekry. Dit sal belangrik wees vir wanneer ons weg van die huis toer.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA