Dillon lei Knights na uitspeelstryd
2011-12-03 16:52
Bloemfontein. – Dillon du Preez het die Lions in eie munt terugbetaal in die Knights se laaste ligawedstryd in die Eendagbeker-krieketreeks.
Sy haastige onoorwonne kolfbeurt van 52 van net 26 balle Woensdag op die Wanderers, is die vernaamste rede waarom die Knights Sondag tuis op Chevrolet Park teen die Warriors in ’n uitspeelwedstryd om ’n plek in die eindstryd speel.
Die veelsydige Du Preez is ook nou met 19 paaltjies die voorste paaltjievraat ná sy boulsyfers van 5/47 – sy beste boulvertoning tot nog toe.
In die vorige stryd teen die Lions in Kimberley het dit nie so goed gegaan nie. Du Preez het 26 lopies in sy laaste boulbeurt afgestaan en is ná sy 1/72 in agt boulbeurte weggelaat uit die span.
Die besering van Ryan McLaren teen die Warriors het die deur weer vir hom oopgemaak. Die Knights het eergister twee keer vanuit die as met Du Preez aan die spits verrys.
Die Lions was op 233/4 op koers na ’n goeie telling, maar Du Preez het in sy laaste boulskof bygedra dat hulle vir net 250 uitgeboul is.
Du Preez sê hy was ietwat paniekbevange toe Johan van der Wath beseer is en nie aan die einde kon boul nie. “Daai 26 in my laaste boulbeurt in Kimberley was ook nog vars in my geheue.”
Neil McKenzie (52) en Cliffe Deacon (8), twee van die kolwers wat sy boulsyfers in Kimberley verniel het, was twee van sy slagoffers met sy laaste sewe balle.
Du Preez was daarna ook die Knights-kolfheld. Niemand sou hulle op 113/6 ’n kans gegun het om te wen nie. Ook nie op 172/8 toe Du Preez hom by Aubrey Swanepoel (54) aangesluit het nie.
Du Preez sê sy ondervinding teen die Dolphins in Bloemfontein, toe hulle in ’n soortgelyke posisie was, het hom help kophou.
Aan die einde het die Knights –- net soos die Lions in Kimberley – ook 11 lopies van die laaste boulbeurt benodig. Du Preez het Richard Cameron se eerste én vyfde aflewerings vir sesse gemoker.
Met sy vyfde ses het Du Preez as’t ware sy handtekening op die tjek geplaas wat nou met die bykomende wedstryd in Bloemfontein na sy franchise toe kom.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24