Die toets van mylpale
2011-07-21 08:25
Londen. – Sachin Tendulkar kry van Donderdag af kans om sy 100ste internasionale honderdtal in die 2 000ste toets op die tuiste van krieket, Lord’s, aan te teken.
Die reeks tussen Indië en Engeland, wat dan hier op Lord’s begin, sal ook bepaal wie die boonste plek op die Internasionale Krieketraad se toetsranglys beklee.
Engeland moet die toetsreeks met minstens 2-0 wen om Indië te onttroon.
Al die aandag voor die eerste toets is egter op Tendulkar gevestig.
Al is hy nou in sy 22ste jaar van krieket op die hoogste vlak lyk dit nog glad nie of hy stoom verloor nie. Inteendeel, die buksie het verlede seisoen 1 562 lopies teen ’n gemiddelde van 78 lopies per beurt gemoker.
Sy 99 internasionale honderdtalle sluit 51 toets- en 48 eendagbeurte in.
As hy wel dié mylpaal bereik, sal dit sy eerste 100-tal op Lord’s wees.
Dit is nogal vreemd dat nie een van Tendulkar, Brian Lara of Ricky Ponting, waarskynlik die drie beste kolwers van hul era, nie ’n toetshonderdtal op dié historiese tuiste van krieket aangeteken het nie.
Andrew Strauss, die Engelse kaptein wat sy graafskapskrieket hier vir Middlesex speel, het self al ’n hele paar honderdtalle op dié veld geslaan.
“Ek is seker dat Sachin bitter graag ’n honderdtal hier sal wil aanteken. Dit is egter ons taak om seker te maak dat dit nie gebeur nie,” sê Strauss.
Strauss se Indiese eweknie, Mahendra Singh Dhoni, het verduidelik waarom Tendulkar ná meer as 14 000 toetslopies nog nie sy motivering vir die spel verloor het nie.
“Hy het ’n ware passie vir die spel.
“Hy hou sake baie eenvoudig. Ek dink hy is die ideale krieketspeler om as rolmodel te dien. Die wyse wat hy homself op en van die veld af gedra is onberispelik. Hy het glad nie verander nie in die afgelope 21 jaar nie,” meen Dhoni.
As die twee kapteins verenig was in hul lof vir Tendulkar, het die teenoorgestelde gegeld toe dit by die gebruik van die verwysingstelsel kom.
Ofskoon Hotspot en die Snickometer in die reeks gebruik gaan word, mag geen been-voor-paaltjie-beslissings na die TV-skeidsregter verwys word nie.
Indië glo nog steeds nie dat die Hawkeye-tegnologie (wat die trajek van die bal voorspel) akkuraat genoeg is nie.
Albei lande wat aan ’n toetsreeks deelneem moet daartoe instem voor dié tegnologie gebruik mag word.
Dhoni het gesê sy span is nog nie oortuig deur die tegnologie nie.
“Tot ons 100% seker is oor die akkuraatheid van die tegnologie, gaan ons nie instem nie,” het hy sy voet neergesit.
Strauss het egter sy misnoeë met die besluit uitgespreek.
“Ek dink ons kry meer korrekte besluite met die tegnologie. Dit is beslis nie ideaal nie, maar dit is hoe ons die reeks gaan speel,” sê Strauss.
Ofskoon Lord’s as die tuiste van krieket beskou word, is die eerste toets nie hier gespeel nie. Australië en Engeland het kragte gemeet van 15 tot 19 Maart 1877 in Melbourne in daardie historiese stryd.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24