Dean, Rory kry kans
2011-12-31 07:42
Christo Buchner en Altus Momberg
Durban – Dean Elgar en Rory Kleinveldt is met plekke in die Proteas se eendaggroep vir die komende krieketreeks teen Sri Lanka vergoed vir hul uitstekende vertonings in dié seisoen se Eendagbeker-reeks.
Die twee spelers wat moes plek maak vir die nuwelinge ná die eendagreeks teen Australië is die kolwer David Miller en die bybreekbouler Imran Tahir.
AB de Villiers is terug as kaptein en paaltjiewagter en sal die Proteas se eendagspan aanvoer nadat hy die reeks teen die Aussies weens ’n besering misgeloop het.
Intussen het Pat Symcox, eertydse draaibouler van die nasionale span, gesê daar is geen rede tot paniek in Suid-Afrikaanse krieket nie en dit sal geen doel dien om nou grootskaalse veranderinge aan die SA toetsspan te maak nie.
“Dit is mos maar hoe ons ou sportnasie is,” het Symcox gister van die KwaZulu-Natalse suidkus af gesê. “Ná hierdie een nederlaag moet almal nou – van die kaptein tot wie ook al – kwansuis gepos word. Hemeltjie mense, ’n bietjie meer as ’n week gelede het ons nog hierdie ouens binne drie dae met ’n beurt vermorsel. Wees net kalm en dink nugter oor sake.
“Dit was een swak toets en hierdie dinge gebeur maar. Sri Lanka het ook goed gespeel en verdien krediet,” sê hy. Symcox sê die valbyl moet eers gebêre word.
“Die enigste verandering wat ek sal maak, is om Alviro Petersen terug te bring as aanvangskolwer en Jacques Rudolph af te skuif na nommer ses in die kolforde in Ashwell Prince se plek.
“Ek glo dit is belangrik om ’n links-regs-kombinasie as aanvangskolwers te hê,” het hy gesê.
“Vir my is dit ook simpel om bloot daaraan te dínk dat Graeme Smith as kaptein gepos moet word. Hy is nou 30 jaar oud en op die hoogtepunt van sy loopbaan as kaptein. Hy het nog ten minste vier goeie jare oor aan die stuur van die toetsspan.
As dit egter wel so is dat daaraan gedink word om Mark Boucher die trekpas te gee en Thami Tsolekile in sy plek te kies, wil ek sê ek sal met Smith saamstem as hy dan as kaptein bedank. Dit sal belaglik wees om Tsolekile bo Boucher te kies.
“Wat die krieketpubliek moet besef, is dat hierdie ’n proses is onder Gary Kirsten se afrigterskap en dat dit ’n tyd gaan neem om te voltooi.”
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter